Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here skyn oor jou.
Jes. 60v1
“Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.”
So sing ons in een van ons bekende Afrikaanse Kersfees liedere. Ja, ons het ‘n oorvloed lig in hierdie tyd van die jaar om ‘n helder
Somerkersfees te vier. Maar daar is ‘n duisternis wat nie eens deur die helder Somerson verdryf kan word nie. Dis die duisternis wat deur diesonde in die wêreld gekom het. Die gevolge van die duisternis is mense wat met ‘n skuldige gewete deur die lewe loop of wie se gemoed belaai is met sorge en moedeloosheid. Hulle verlang na lig in hulle lewe, nie die kunsmatige lig van die vermaaklikheid wêreld nie, maar na die ware lig.
En Jesaja verkondig ons hierdie lig. Hy sê aan die mense wat in diepe duisternis leef: Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here skyn oor jou.
Die heerlikheid van die Here het oor ons kom skyn deur die genade in Jesus Christus. Met die geboortevan Christus het God se genade gestalte gekry, die Verlosser van sonde en skuld is gebore. Soos ‘n weerligstraal die hele hemel verlig maar net op een plek geslaan het, so het God se lig op een plek in die wêreld gekom en van daar die hele wêreld verlig. Die heerlikheid van God se genade skyn helder vir elkeen, ook vir jou.
In die fokus teks vir Desember het God twee bevele gegee: Sy volk moes opstaan en hulle moes hulle lig laat skyn, omdat jou lig gekom het, omdat die Verlosser voor die deur staan. Die heerlikheid van die Here wat sedert Kersfees oor die hele wêreld skyn is nie iets wat mens net as ‘n onbetrokke toeskouer kan aanskou nie. Ons word deur hierdie lig voor ‘n keuse geplaas. Want deur die
glans van hierdie lig word ons of verblind of verlig, deur die vuur van sy teenwoordigheid word ons of verbrand of gelouter. As hierdie ewige lig in ons donker wêreld skyn dan maak dit van ons kinders van die lig of dit word duidelik dat ons meer lief is vir die duisternis as die lig. Ons staan of aan die kant van die wyse manne uit die Ooste, wat gekom het om te aanbid of ons staan aan die kant van die koning, wat die klein kinders in Betlehem laat vermoor het.
Daarom is hierdie tyd van Advent ook ‘n tyd van selfondersoek. As jou lig kom dan moet jy ook jou lig laat skyn.
Dit beteken nie dat ons nou op ons eie moet probeer lig wees nie. Maar laat jouself deur Christus verlig. Laat sy Woord van genade juis in hierdie tyd deur jou lewe deurvloed; laat sy vergifnis en sy liefde wat ons in die heilige Nagmaal ontvang jou lewe verlig; soos toe jy gedoop is. Dan het ons waarlik ‘n helder Somerkersfees.
Amen.
Christus kom, Christus kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.