Wagwoord
Kyk, jou koning kom na jou toe: Hy is regverdig en die oorwinnaar.
– Sagaria 9:9b
Leesings
Ou Testament – Sagarja 9: 9-10
Evangelies – Matteus 21: 1-9
Lied van die week
Laudate 1: Heiland, kom, die wêreld wag
Heiland, kom, die wêreld wag: Ja; U kom: Op Gods gesag word gebore klein en teer as ‘n kindjie God die Heer.
- U verlaat u hemeltroon, kom as mens op aarde woon; God die Heer, ‘n mensekind, deur wie ons verlossing vind.
- U daal van die Vader neer, tot die Vader keer U weer; deur die hel het U gegaan, hemelwaarts weer opgestaan.
- Met ‘n ongekende, prag blink u krippie in die nag. Die geloof leef in die lig waarvoor al, die duister swig.
- Aan God in die, hemelryk, Vader, Seun en Gees gelyk, bring ons lof in hierdie tyd en in alle ewigheid.
Preek
Genade en vrede van Hom wat is, wat was en wat kom, ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Amen.
Die Skriflesing vir die preek kom uit Romeine 13:8-14 :
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar liefte hé. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of water ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhé soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
Gebed: Here, seën die verkondiging van U Woord aan ons harte. Amen.
In Jesus Christus, liewe gemeente!
Ek weet nie hoe julle werksdae begin nie, veral op ’n Maandag. Dalk is dit ook met ’n harde wekroep: Staan op, maak reg, kry jou sake in orde! Staan op, maak reg, kry jou sake in orde! Dis die woorde waarmee die apostel Paulus ons op hierdie Sondagoggend wil wakkermaak.
Ja, dalk het ons vir hierdie eerste Sondag in Advent ’n gemakliker toon verwag, ’n gemaklike oorgaan van een kerkjaar na die volgende. Nie hierdie duidelike woorde, nie hierdie skokterapie, nie hierdie “Staan op! Maak reg! Kry jou sake in orde”
Is dit weer tyd vir ’n goeie wettiese preek? Dink Paulus, dat hy sodoende van ons beter mense sal maak? Nee, maar dis ook nie sy doelwit nie. Want hy reken mos daarmee, dat ons alreeds beter mense is, – hy skryf mos aan Christene. En nou behoort ons ook so te lewe. Lewe soos mense van die dag.
Om in die beeld van ons skriflesing te bly: Dit mag donker wees rondom ons, maar dis kort voor daglig, die son gaan binnekort opkom. En daarom moet ons:
Opstaan
Iets uittrek
Iets aantrek
Ontbyt eet
Liewe medechristen, dalk het jy vanoggend iemand gehad, wat vir jou koffie in die bed gebring en met ‘n vriendelike stem gesê het: Dis tyd! Dis tyd om op te staan! Ja, so ‘n vriendelike gebaar, so ‘n lekker koppie koffie maak dit makliker om op te staan, die oë oop te maak en die moeë ledemate uit die bed te kry. Gewoonlik is dit nie vir my die grootste vreugde om in die oggend op te staan nie. Juis as ‘n dag voorlé met baie take en moeilike gesprekke, dan wens mens die wekker sou liewer nooit lui nie. Maar as iets moois op my wag, iets waarop ek nog met slaap in my oë kan blyraak, dan is dit makliker op te staan, dan trek dit my as’t ware uit die bed.
Vandaq het ons so ‘n goeie vriend, ‘n wekker wat ons vriendelik maar duidelik sê: “Dis tyd!” Ja, die apostel Paulus self, sê vir ons: “Dis tyd om op te staan!” Nie, omdat jy ontbyt vir jou kinders moet maak of omdat ons oor 25 dae kersfees vier en jy nog geen geskenke gekoop het nie.
Nee, Paulus wil ons met hierdie wekroep nie paniekorig maak nie, wil ons nie die skrik op die lyfjaaq nie, dis nie ‘n moeilike taak wat op ons wag nie. Nee, hy lei ons gedagtes op ‘n groot gebeurtenis, iets wat ons uit die slaap wil skeur en beweeg om op te staan.
Want “die naq is byna verby, dis amper dag.” (V. 12) Ja, met hierdie groot gebeurtenis bedoel Paulus niks anders as die dag van Christus se wederkoms. Hierdie dag kom al hoe nader, dag vir dag, uur vir uur. Maar hy sê dit nie om ons bang te maak nie. Want op daardie dag sal ons nie gevra word, wat ons alles gedoen het nie, hoeveel goeie dade ons bymekaar gemaak het nie, maar dan gaan in vervulling, wat in ons lewens lank reeds begin het, van die dag toe ons gelowig geword het, toe ons deur die doop met Christus verbonde is, van die dag toe Hy vir ons gesê het: Moenie bang wees nie, Ek het jou verlos; Ek het jou op jou naam geroep. Jy is myne! (Jes 43,1)
Ja, daarom mag ons as Christene hierdie dag van die Here tegemoetgaan soos kinders kersfees tegemoetgaan, ons mag bly raak oor die wederkoms van die Here, omdat ons op die dag rede sal hê om van blydskap te jubel en te juig.
Daarom sê Paulus vir ons: Dis tyd om uit die slaap wakker te word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. (V. 11)
Geliefdes, dis wat Advent beteken: Ons verlossing, ons Verlosser is naby. Dis tyd om op te staan, om ons daarop voor te berei. En dis ’n blye boodskap. Ons mag daaroor bly raak soos die vyf slim meisies, toe hulle teen middermag wakker gemaak is om op te staan en die bruidegom tegemoet te gaan.
Om nou nog te slaap, in droomwëreld te verkeer, om te maak asof dit nog donker nag is, dit weerspieël nie die werklikheid nie. Wie nie kan ophou slaap nie, verpas die beste ure van die dag. Dit mag wees, God is op pad na ons, maar ons besef dit nie. Daar is verlossing vir ons, maar ons verslaap die kans. In beeldspraak: Ons het kaartjies vir die Springbokke se wedstryd op Loftus in die hand, maar jy verslaap die datum. Daarom geliefdes, word wakker, dis tyd om op te staan – soos op ’n dag waar ons iets baie groots verwag.
Ja, ons as Christene is kinders van die lig, bestem vir die dag. Dit begin alreeds skemer, die daglig van ons finale verlossing kom al nader, dis tyd om op te staan.
En hier verlaat Paulus sy beeldspraak ’n klein bietjie. En hy sê: ons moet iets aflê, uittrek. Soos ons die vuil klere uittrek. Hy praat nou van mense van die nag. Hy praat van diegene wat in die donker van die nag dinge doen, waarvan niemand anders mag weet nie.
Jy mag nie egbreuk pleeg nie, së die Here. Jy mag nie jou eie huwelik breek nie en jy mag nie in iemand anders se huwelik inbreek nie. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie wraak neem nie, nie jou naaste haat of minag nie. Ook nie in gedagtes, waar niemand dit kan sien nie.
En jy mag ook nie begeer en steel nie. Dit beteken, jy mag nie in geheim planne beraam hoe jy dit als kan bereik, terwyl dit na buite lyk asof alles regtens verloop het.
Dis die werke van die duisternis. Hulle geskied gewoonlik in die donker en hulle kom uit die donker van ons menslike hart. Ons moet hulle aflë.
En dan voeg die apostel by: Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspatitgheid, geen ontug en onsedelikheid, geen ruste en jaloesie wees nie. (V. 13) En as ons nog steeds van ons eie geregtigheid oortuig is, dan laat ons onthou, dat mens ook in gedagtes kan egbreuk pleeg, doodmaak en wraak neem.
Die feit is: Ons kan die tien gebooie nie volkome onderhou nie. Dis net die liefde, wat die naaste geen kwaad doen, dis net die liefde wat die naaste nie beskinder, wat nie wraak neem, maar die belange van die naaste beskerm en vermeerder. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
En dis die plek waar Paulus se preek vir my ongemaklik begin word. Want die liefde het nooit genoeg gedoen nie. Dis waar Paulus dit aan die lig bring, wat ek so graag wil versteek. En meteens voel ek ontbloot, nakend. En sedert die sonde in die wëreld gekom het, kry ons skaam as ons nakend is.
Maar Paulus laat ons nie so staan nie: “Beklee julle met die Here Jesus Christus!” (V. 14, Direkte vertaling 2020)
Ons moet die klere van die duisternis aflë, maar ons beklee met die Here Jesus Christus. Dit het vir ons gebeur toe ons gedoop is. Toe het ons Christus aangetrek, soos wat mens ’n stel klere aantrek. Christus is mos niks anders as God se liefde in persoon nie. Hier kry ons dit, wat ons ontbreek. En waar liefde is, is daar nie plek vir verkeerde dinge nie. Die hemelse Vader sien nou niks verkeerds in ons lewe nie. Want as Hy na ons kyk, dan sien Hy siegs sy geliefde Seun, Hy, wat heeltemal sonder sonde is. En ons in Hom.
“Klere maak mense” sē ’n spreekwoord. Die kleed wat ons dra, maak wie ons is. As jy Christus in jou doop aangetrek het, as Hy jou beklee het, dan lewe jy so te sē in Christus: Christus omgewe jou van alle kante, sodat jy in Hom geborge mag wees, sodat Hy ons doen en late, ons hele lewe al meer en meer besiter en verander.
Ja, dis wonderlik as Christus so naby ons kom, dat ons met sy geregtigheid beklee word. En tog geskied dit altyd weer, dat ons Christus se nabyheid as lastig ondervind, dat ons die kleed van ons doop uittrek en dat ons vir Christus by so baie dinge in die lewe eerder wil uitsluit.
En daarom skryf Paulus in hierdie verse aan die Christene in Rome: Moenie soos keiser Nero maak nie: Hy het die gewoonte gehad om snags sy keiserkleed uit te trek en as ’n onbekende die naglewe van sy hoofstad te geniet, van een kroeg na die volgende, van een bordeel na die ander. En dit kon hy siegs doen, omdat hy voorheen sy keiserkleed uitgetrek het, waarin hy andersiens herkenbaar sou wees.
En daarom skryf Paulus: Hou op met die werke van die duisternis, maar beklee julle met die Here Jesus Christus! Moenie weer die wit kleed van julle doop uittrek nie, moenie weer begin om Christus van julle privaatlewe af weg te hou en sonder Hom te lewe nie. Inteendeel, laat julleself weer met Hom verbind, trek Hom aan, neem Hom saam by alles wat julle doen!
Dan sal julle besef: As ek Christus met my saammeem, dan wil ek myself nie besuip nie. As Christus my lewe lei, dan kan ek nie so optree, dat ek die kontrole oor myself verloor. As ek Christus by my het, dan is dit vir my onmoontlik om na ‘n bordeel te gaan of onwelvoeglike dinge te doen of in stryd met my naaste te lewe nie. As ek Christus by my het, dan kan ek as ‘n Christen nie so lewe, dat ek sy Naam en die naam van my gemeente skade aandoen, dat ander die kop oor my skud en sé: “En dit wil ’n Christen wees?”
Ja, dit klink alles so eenvoudig en tog weet ons watter stryd dit in werklikheid altyd weer in ons lewe is, hoe daar so baie dinge in ons lewe is, wat ons wil verlei, om Christus weer uit te trek, Hom uit bepaalde kamers van ons lewe weg te hou. Nee, ons goeie bedoelings sal ons ook nie help nie. Ons het die hulp nodig van ons Here, sy wapens. Ons benodig die wapens van sy woord, wat ons altyd weer moed gee, om ons pad saam met Christus te loop, wat ons help, om duidelijk te sien, wat die wil van die Here is en wat nie.
En daarom moet ons nou nog die wapens van die lig aantrek. Wie nou iets besonders verwag, sal teleurgesteld wees. Dit is sulke eenvoudige dinge soos om jou Bybel te lees, te bid, vergiffenis te vra, die Erediens gereeld te besoek, waar die vergiffenis op verskeie maniere aan ons uitgedeel word, in die gemeente te bly, deur die gemeenskap van die gelowiges versterk te word.
Baie mense sé mos, hulle bly weg van die kerk, want dis net huigelaars wat kerk toe kom. Dit mag wees, dat daar baie huigelaars in die kerk sit, maar daar is altyd plek vir nog ene, en hierdie huigelaars kry vergifnis van hulle sondes, hulle gee die Heilige Gees ‘n kans om deur sy Woord aan hulle te werk, hulle bemoedig ander in die gemeente eenvoudig deur altyd weer op te daag, hulle bly met Christus verbonde deur die heilige Nagmaal. Nee, ek is eerder ‘n huigelaar wat by Christus bly as iemand wat op sy eie verlore gaan.
Ja, dit lyk nie na baie nie, Christus se wapens van die lig: Sy Woord en Sakrament, sy vergifnis en genade. Maar dit het die mag om menselewens te verander. Sodat hulle die werke van die duisternis aflé, sodat hulle vrede maak met ander. Sodat hulle bereid is om alles prys te gee, as hulle slegs dit kan behou: die verlossing, wat na hulle gekom het, deur Hom, wat die lig van die wèreld is, Jesus Christus.
Maar ’n belangrike deel van opstaan ontbreek nog: Ontbyt. Die apostel sluit sy vermaning af met die woorde: Sorg vir die liggaam, maar nie om julle sondige begeertes te bevredig nie. (V. 14 Ou vertaling) Al spaar Paulus nie met duidelike woorde oor die wil van die Here vir ons lewe nie, wil hy nogtans nie ons lewe versuur nie. Hy sé: Sorg vir julle liggaame. Eet en drink en geniet die dinge wat ons met kersfeestyd op ons tafels plaas. Geniet die gawes wat God vir julle hier op aarde gee. Doen wat julle wil om die lewe te geniet. Doen dit met ’n vrolike gewete, of dit nou julle werk, skool of die vakansie is.
Maar doen dit nie, om julle sondige begeertes te bevredig nie. M.a.w. wat julle ook al doen, moenie dat dit julle siele skade aandoen nie. Sorg vir julle liggame, maar dra nog meer sorg vir julle siele. Moenie die doelwit uit die oog verloor nie: ’n lewe in diens van God.
As mens die aand tevore te laat gaan slaap, dan kan mens nie die volgende dag uit die vere kom nie. As mens te veel geparty het, dan is mens nie instaat om op te staan en die bruidegom tegemoet te gaan nie.
En daarmee is ons weer by die tema van Advent. Liewe gemeente, ons is besig om Christus tegemoet te gaan, ’n hele lewe lank vanaf die dag toe ons gedoop is. Ja, en om voorbereid te wees op Christus se wederkoms, en dis mos rede genoeg om op te staan en jouself aan te trek. “Want ’n nuwe dag staan voor die deur, en ek is bly daaroor; ja Here, ek is bly oor U !” Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

