Wagwoord
Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand
– Lukas 12:35
Leesings
Sendbriewe – Openbaring 21: 1-7
Evangelies – Matteus 25: 1-13
Lied van die week
Laudate 455: Op ontwaak! Kom, laat ons luister!
- Op ontwaak!” Kom, laat ons luister! Daar op die mure in die duister, die wagters roep met luide stem: “Op, ontwaak! Hy kom, die Koning! Maak in jul harte vir Hom woning. Ontwaak, ontwaak, Jerusalem!” O neem die lampe, kom, daar is die Bruidegom. Halleluja! Met snelle voet Hom tegemoet! Laat ons Hom met gejuig begroet.
- Sion het in nag en duister met blydskap na die woord geluister. Vol vreugde staan sy haastig op. Uit die hemel kom Hy pragtig, haar Bruidegom, in liefde magtig. Gods heerlikheid gaan oor haar op. O Heer met eer gekroon hier wag u arbeidsloon. Halleluja! U kom ons haal. U awendmaal wag lankal in die hemelsaal.
Preek
Genade en vrede van Hom wat is, wat was en wat kom, ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Amen.
Die Skriflesing vir die preek kom uit Matteus 25,1-13 :
Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. “In die middel van die nag was daar ‘n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!” Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. Die onverstandiges së toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’ “Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek së vir julle: Ek ken julle nie!’ “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”
Gebed: Here, praat met ons deur U Woord. Open ons harte sodat ons voorbereid is vir U wederkoms. Amen.
Liewe gemeente!
Dit was die ou Joodse gebruik tydens `n troue: Die bruidegom het sy bruid by haar ouerhuis kom afhaal. En as hy die dorp van sy toekomstige bruid nader, was dit die taak van die bruidsmeisies om hom tegemoet te kom. Dat die bruidegom in die aand kom was normaal, daar is eers feesgevier as die die hitte van die dag verby was. En dit was ook gebruiklik, dat die bruidegom laat kom.
Hy moes immers ‘n redelike bruidsprys met die ouers van die bruid onderhandel. Dit het partykeer lank voortgesleep. Hier in die gelykenis het hy baie lank op Hom laat wag, totdat die kreet gekom het: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’
Die bruidsmeisies het intussen lomerig geword, al tien het ingesluimer. Maar toe die kreet kom, was hulle almal waayyd wakker, al tien van hulle. Die Here blameer egter nie die tien bruidsmeisies dat hulle ingesluimer het nie. Wat die verstandiges verstandig laat optree en van die onverstandiges onverstandige bruidsmeisies maak, het ’n ander oorsaak. Dit gaan oor die noodwendige reserve voorraad olie.
Maar voor ons daarmee aangaan wil ons blyraak op hierdie sogenaamde Sondag van die Ewigheid. Die Here het vir ons lieflike somerweer geskenk, alles groei en gedy. En dit pas by Ewigheidssondag, want vandag vier ons mos nie die dood nie, maar ons vier die lewe, die ewige lewe.
Ons mag vandag praat oor die fees van die ewige lewe, selfs al staan ons by die grafte en by die gedenkmuur grafte vir ons gestorwenes, omdat ons weet dat die dood nie instaat is om diegene van hierdie fees weg te hou, wat die wederkomende Here geken het en vir wie Hy geken het.
Ja, vir ons geliefdes wat in Christus gesterf het beteken die dood nie die verschiklike einde nie, maar dit is vir hulle die toegangsdeur tot hierdie fees, wat Jesus hier vir ons beskryf.
Laat ons daarom vandag bly raak oor die feit, dat ons bestem is vir die ewige lewe. Laat ons blyraak, dat ons bruidsmeisies mag wees! Dit klink dalk ietwat vreemd. Maar laat dit vir jou duidelik wees wat dit beteken: In hierdie weke hoor ek van verskeie bruilofsfeeste waarnatoe mense uitgenooi is. En jy is ook op ’n besonder persoonlike manier na ’n bruilofsfees uitgenooi. Jy is werklik deel van hierdie feesvieringe, omdat jy belangrik is vir die bruid en die bruidegom. Jy mag saam feesvier by die bruilofsfees met al die blydskap en vreugdes wat daarmee gepaard gaan! – Mag wees, dat jy sé. “En wat daarvan? Is dit so iets besonders?”
Laat jouself dan in die situasie van ’n jong bruidsmeisie plaas, wat vir die eerste keer na ’n troue genooi is: Met oë wat straal van verwagting sien sy uit na die bruilofsfees. So mag jy ook uitsien na die bruilofsfees in die hemel. Daar waar ons begrip tekortskiet, waar ons menslike sinne die ewigheid nie kan begryp nie, daar kom Jesus met hierdie beste beeld van ’n fees na vore, wat ons as mense kan verstaan. Hy praat van ’n bruilofsfees.
En Hy sé vir jou, my liewe vriend, my liewe vriendin, ek wil hé dat jy aan hierdie bruilofsfees deelneem, nie net as ‘n toeskouer of as werker, nie as ‘n verlangse oom of vyfde graadse neef nie. Ek wil jou by my bruilofsfees hé as my persoonlike vriend, as ‘n goeie vriendin. Saam wil ons die fees mooi voorberei en vier.
Wat sou Ewigkeidssondag wees, as ons nie eers mag praat van die fees, waarnatee Jesus ons almal uitgenooi het. Ons mag daarna uitsien en daaroor blyraak, soos ons oor ’n fees blyraak, waar ons gemaklik voel, waar ons welkom is, en waar ons tuis mag wees. Dit herinner ons aan die woord van belofte uit die Ou Testament: U het … hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word. (Jes 9,2) Dis ook so ’n bybelse beeld van toekomstige vreugde, die oesfees.
Dis goed om jouself altyd weer te vergewis: Die doel van my lewe is niks anders as die ewige saligheid, ’n vrolike bruilofsfees.
Dan hoef ek nie meer bekommerd te wees oor ‘n mislukte eksamen of ‘n mislukte projek of ander probleme nie. Dis ‘n fees, waar die alledaagse sorge buite bly, waar ons nie ons bekommernis in ’n glasie wyn stort nie, maar dit vir ewig aan Christus mag oorlaat; ’n fees waar ons blydskap nie gedwonge is nie, maar waar dit eenvoudig daar is; ’n fees wat regtig fees is en niks anders nie! En dit mag genoeg wees om die begrip “ewige saligheid” vir ons te laat skyn.
Maar kan jy seker wees, dat jy ’n genocide gas is? Dis mos die eerste vraag: Want hoekom sou jy na olie vra as niemand vir jou die lamp in die hand gedruk het, wat jou uitnodiging is, om die bruidegom, Jesus Christus, na sy hemelse bruilof te begelei?
As jy twyfel of nie seker is of jy genooi is, dan kyk hier voor na die doopvont. In sommige gemeentes staan daar ‘n brandende doorkers. Die doorkersie herinner ons daaraan: Christus het vir jou die lig van die ewige lewe deur die doop in jou hande geplaas. Dis soos daardie klein olielampies wat die bruidsmeisies by hulle het: dis ‘n teken dat julle deel is van die bruilofsfees. En daarom is die sondag van die ewigheid ook ‘n dag waarop ons ons doop herdenk.
As die vraag jou kwel: “Is ek beroep vir die saligheid, vir die ewige lewe? Wil God my ooit by Hom hè.”, dan onthou dat jy gedoop is. Jou uitnodiging is aan jou uitgereik, die olie lamp wat jou identifiser as ‘n metgesel van Jesus Christus, is in jou hand gedruk. Bybels beteken dit: Die Heilige Gees is vir jou gegee, jy is wedergebore deur water en Gees! God red jou deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees (Tit 3). Moenie hierdie stuk kategese vergeet, wat jou uitnodiging na die saligheid bevestig.
Nou, as ‘n genocide gas, wat van sy uitnodiging verseker is, moet ons onsself afvra: Wat is die rede, dat die vyt’ onverstandige bruidsmeisies van die bruilofsfees uitgesluit is? En hoe verskil die vyt’ verstandige bruidsmeisies van hulle?
As ons besef, dat die uitnodiging na die bruilofsfees die mees gesogte is, wat ‘n mens kan ontvang, dan sal die antwoord op hierdie vrae vir ons belangrik wees: En as iemand bewus is dat hy uitgenooi is en sy doop-lample in sy hande dra, dan sal hy homself nou afvra: Is ek gereed vir sy wederkoms: Want as Hy kom, Jesus Christus, dan kom Hy ook om te oordeel, Hy sal veroordeel wie nie voorbereid is nie en Hy sal diegene saam met Hom neem wat gereed is.
Dis die verrassende in hierdie gelykenis: onderwyl hulle slaap, te midde van sport, of werk of vakansie, kom die Here na jou toe! Skielik en onverwags! En nie een van die tien bruidsmeisies is hiervan uitgesluit nie. Geen christen is daarvan uitgesluit nie, niks meer en niks minder as al die ander mense nie.
Laat ons onsself nie misgis nie: Onverwags en skielik, kan dit elkeen van ons oorkom. Dis ook nie so erg nie, want ons het mos gehoor: Die Here kritiseer nie die tien maagde, omrede hulle geslaap het nie. Soos Hy ook nie vir ons kritiseer wanneer ons ons daaglikse take nakom nie, as ons werk, of vir die familie daar is of met vakansie gaan. Die Here verwag nie dat ons ons nou uit die wèreld moet terugtrek nie. Hy verwag ook nie, dat ons gedurig gespanne is soos ’n soldaat wat wagstaan nie?
Maar om hierdie beeld te gebruik, Hy laat ons ook nie in siviele klere rondloop nie. Ons dra ons christen-uniform orals waar ons is. Die christen-uniform bly aan jou, daar waar jy as Christen in die openbare lewe optree, waar jy ookal verkeer, wat jy ook al doen, of jy rus en of jy slaap. Dis hoe die vyf verstandige bruidsmeisies uitgewys word: Hulle staan met hul olielampe in hul hande, gereed vir die fees. Jy mag as ’n gedoopte en genocide gas nooit van die ewige saligheid vergeet nie: mens kon by die bruidsmeisies selfs in die slaap sien, waarop hulle wag.
Maar nou kom die oomblik van waarheid. Want al tien van hulle staan gereed, uniform reg en gereed om fees te vier. Maar hoe verskil hulle van mekaar?
Ek wil dit met die woordjie bereldskap verduidelik. Soos ek gesê het, vir elkeen kan die wederkoms onverwags kom, maar is ons onvoorbereid? Dis die vraag wat saak maak.
Die olie lampe, waaroor ons praat, was destyds klein ligte vir buite, veel kleiner as die huislampe. Hulle het net sowat 15 minute gebrand. Dan was dit noodsaaklik om hulle weer met olie op te vul. Daarom wat dit eintlik vanselfsprekend, dat die bruidsmeisies reserve-houers met olie sou saambring, klein botteltjies soos kruike, wat mens by jou kon dra.
As iemand van julle al deur Namibie getoer het, dan sal julle weet hoe belangrik dit is om reserve-houers met brandstof, water ens. saam te sleep, anders het jy moeilikheid.
Maar die onverstandiges in ons gelykenis het te midde van die gewag en die geslaap vergeet om nog reserve voorraad aan te koop. Maar ‘n brandende lamp was mos die kenteken van hul uitnodiging. En toe die oomblik aanbreek, toe staan hulle in die donker. Dit was te laat om nog te koop en af te gee. En diegene wat in die donker staan word nie meer deur die bruidegom herken nie. Die deure word gesluit en hulle moet buite bly.
‘n Uitgebraude lamp maak nie meer lig nie, dit het sy betekenis verloor. ’n Uitgebraude doop maak nie meer lig voor God se troon van oordeel. En diegene wat in die donker staan, word nie meer deur die bruidegom herken nie.
My liewe, genocide gas, is dit regtig so moeilik om in te sien, dat jou gewag en jou lewe op die pad na die saligheid reserve-olie van geloof benodig? Kan jy regtig onverskillig wees teenoor die feit, ek is genooi, my doopseël is in orde, die lamp van geloof is aan my oorhandig? Of is jy seker, dat jy met ‘n helder geloofslig sal instap, wanneer die bruidegom Christus kom? As dit vandag is, of dinsdag, heeltemal onverwags? Sou jy bereid wees?
En as jou hart jou kwel en jy jouself afvra: “Wat moet mens doen, dit is so moeilik om te doen wat reg is, dan kan ek jou net goeie advies gee: Koop, maak vol, terwyl daar nog tyd is!
Christus bied vir jou die olie aan, wat jy nodig het, botteltjie vir botteltjie. Hier ‘n geleentheid om te bid, daar jou Bybel of jou gesangeboek, ‘n huisgodsdiens met die familie, op sondag die Erediens, op Dinsdag die Bybelstudie, of ‘n taak van liefde en toewyding, die deelname aan ‘n gemeenterrojek soos die diakonie, berou oor sondes, deelname aan gemeenteaktivitette.
Gebruik die tyd wat jy nog oor het om jou voor te berei vir hierdie ontmoeting met die wederkomende Here.
Nou het jy nog geleentheid om die wederkerende Christus te ontmoet, hier in die heilige Nagmaal, sodat Hy nie aan die einde verbaas hoef te sé: Maar ek ken julle nie.
Nou het jy die geleentheid om jouself deur sy woord te laat opwek. Elke deelname aan die Erediens, elke studie van sy Woord, is so ‘n voorbereiding waardeur jy die olie van geloof opvul, wat ons eendag sal nodig kry, wanneer dit ook in ons lewens heeltemal donker word.
Eintlik kan mens net verbaas vasstel hoeveel vuistaises Jesus vir jou op die pad geplaas het. Jy het eintlik nooit regtig nodig om oor te skakel na die reserve tenk nie. Die vraag is net of ons hierdie vuistaises van geloof gebruik of hulle as onbelangrik ag of met ‘n “ek het nou belangriker sake” oor die hoof sien.
Dink jy dis goed, as jy te midde van al jou alledaagse goed, die sorge en vreugdes van jou lewe, oor die hoof sien hoe die waarskuwingslig van jou reserve-tenk rooi flikker? Koop, maak vol, solank daar nog tyd is! Hoe weet jy, of die vuistaises nie binnekort gesluit word? En kort voor lank is jou reserves opgebruik.
En as jy dink dis genoeg om ‘n godvresende ouma te hè, wat gereeld bid en kerk toe gaan, agter wie se skaduwee jy by die hemeldeur gaan inglip, dan maak jy ’n groot fout.
Die verstandige bruidsmeisies in ons gelykenis kon nie van hul olie afgee nie; elkeen moet homself op hierdie ontmoeting met die wederkerende Here voorberei.
Daarom liewe medechristen, met die olie lamp van jou doop in die hand, kyk hoe lyk jou voorraad! Jy mag baie goeie dinge in die lewe doen. Op die ou einde tel net dat die geloofslig van jou doop aan die brand is, wanneer die bruidegom weer kom.
Onthou watter wonderlike fees op jou wag! Voor jou lê nie siegs die oorblywende jare van jou lewe hier op aarde nie, voor jou lê die ontmoeting met jou Here, wanneer dit ook al mag wees.
Ja, dis beslis die moeite werd om vir hierdie ontmoeting voor te berei, dis die moeite werd om te kyk of jy geloofsolie ingegooi en volgemaak het. Jy wil mos daarby wees, wanneer die bruidegom kom, jy wil mos saam met Hom ingaan na die fees van vreugde, wat geen einde meer sal neem nie. Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

