Skip to content Skip to footer

Laaste Sondag na Epifanie

Wagwoord

Oor jou sal die Here opgaan, en oor jou verskyn sy heerlikheid.
– Jesaja 60:2

Leesings

Sendbriewe – 2 Korintiërs 4: 6-10

Evangelies – Matteus 17: 1-9

Lied van die week

Laudate 62 : O Here Christus, ewig as God se Seun vereer

1. O Here Christus, ewig as God se Seun vereer, wat een is met die Vader soos ons uit. Gods Woord leer, o Môrester, u strale strek ver oor berg en dale bo ander sterreglans.
2. U is vir ons gebore as mens in hierdie tyd anders was ons verlore voor God in ewigheid. Die dood se mag al vellend en lewe weer herstellend sluit U die hemel oop.
3. Laat ons tog in u liefde en kennis altyd groei sodat daar in ons harte geloof en trou mag bloei. Verlangend na u soetheid en dorstend na u goedheid wil ons U ewig dien.
4. U, Skepper van die heelal, U, vaderlike Krag, U heers oor heel die aarde met onbeperkte mag. Laat ons met U verenig, op U gerig allenig, onwrikbaar by U staan.
5. Laat tog die oue Adam nou sterf daar aan die kruis, sodat deur u genade die nuwe mens verrys, en deur u Gees ontsondig u almag bly verkondig, sy hart gerig op U.

Preek

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees wees met julle almal. Amen.

Die Skriflesing vir die preek is die lesing uit Eksodus 3:1-14

Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Almagtige God, barmhartige Vader, ons benodig U woord. Dankie dat U nie ophou om met ons te praat nie. Open ons ore en ons harte vir U Woord. Amen.

Geliefdes in die Here,
Dis die eerste dag by die skool. Die kinders van klas 1 (intussen mag dit al klas R wees) waag die eerste treëtjies van ’n nuwe lewe. In die een hand is die skooltas, terwyl die ander ene diep in die broeksak begrawe is. Die vreemde omgewing, die baie gesigte, die onbekende word vir die een of die ander te veel. Die trane kom. Maar dan kom die ma, vat die kind aan die hand en sê: “Ek is by jou. Ek stap saam met jou tot daar, waar die onderwyseres op jou wag.” Dit val soos ’n klip van die kind se skouers. Dit kry nuwe moed en waag die eerste treë in die nuwe lewe.

“Ek is immers by jou!” sê die Here vir Moses, toe hy een van die moeilikste opdragte van sy lewe ontvang. Hy moet vir Israel uit die gevangenskap in Egipte bevry. Hy, wat tot dusver net die kleinvee van sy skoonpa Jetro opgepas het, moet nou Farao toe gaan, om sy volk te bevry.

Liewe gemeente, kan ons begryp wat ’n las daarmee op die skouers van Moses geplaas word? G’n wonder as Moses vir God sê: “Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” Maar God sê vir hom: “Ek is immers by jou!” (V 12) God sê ook vir jou: “Ek is immers by jou! Ek is by jou in alles, wat in hierdie jaar op jou wag.” God is by jou, wanneer jy die volgende tree in ’n onbekende toekoms waag. God is by jou in alles, wat jou vreesbevange maak.

Hoe kan ons dit weet? Ons teks gee vir ons drie redes. God is by jou 1) want hy het Homself aan ons geopenbaar, 2) Hy het ons verlos en 3) Hy het Sy naam aan ons bekend gemaak.

  1. Ons hoor dus eerstens, dat God Homself aan ons geopenbaar het.
    Moses is een van die mense, wat so ’n ontmoeting met die Here gehad het. Dit is egter nie ’n belewenis, wat groot opslae in die destydse wêreld gemaak het nie. God openbaar Homself nie in die paleis van farao nie, waar Egipte daarvan notisie kan neem nie. Nee, in die woestyn, daar waar daar amper geen lewe is nie, daar wys God wie Hy is.

Dit is ook geensins ’n gesiene priester of profeet aan wie God Homself openbaar nie. Nee, dit is Moses, wat in die woestyn die kleinvee van sy skoonpa Jetro aan. Hy lei hulle van een stukkie grond na die volgende op soek na weiding. Dis nie ’n besonders aangename werk nie. Die son brand van bo, die stof lê in sy oë, daar is geen skaduwee nie. Dis ’n verlate stukkie aarde die. En Moses self word gesoek vir moord. Hy het ’n Egiptenaar doodgeslaan. Daarom kruip hy weg in hierdie woestyn.

Maar skielik skyn die lig van God op hierdie verlate stukkie aarde en binne in die hart van Moses. En hierdie berg word vir Moses die berg van God, ’n plek waar hy die Here ontmoet. Die ewige onverganklike en levendige God kom in ons verganklike wêreld.

Moses sien die doringbos brand, maar wonder bo wonder, hy verbrand nie. Hy verbrand nie, want God is in hierdie doringbos teenwoordig. Dit het God behaag om Homself in hierdie onaansienlike doringbos te verberg. Baie jare later sal die Here se hoof met ’n kroon uit dorings gekroon word, as teken van sy liefde vir ons.

Is ’n brandende doringbos regtig die gepaste manier om die Almagtige openbaar te maak? Diegene wat na sensasie en opmerklike gebeure smag, sal deur God se manier om Homself met die nederige en die geringe te verbind, ontnugter word. Maar vir diegene wat in nood en beproewing verkeer, is dit ’n groot troos. Want die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. (Ps 34,19) God almagtig is juis dan by sy gemeente en sy gelowiges, waar hulle ’n kruis moet dra, waar dit moeilik is. In die harte van die gebrokenes, wil God sy levendige en sy vertroostende woorde spreek.

Moses kom nader, want hy wil uitvind, waarom die doringbos dan nie uitbrand nie. (V. 3) Die Here sê toe vir hom: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” (V. 5) Moses moet sy sandale uittrek. Want hy het ’n plek gevind, waar God op besondere wyse teenwoordig is. God verbind Homself met sekere gewyde plekke. Vir Israel was dit die heilige plekke van destyds, die tempel in Jerusalem, die tent van ontmoeting of die berg Sinai. By hierdie plekke was die Israeliete verseker van die Here se teenwoordigheid.

Is daar vir ons as Christene sulke plekke, waar die Here op besondere wyse teenwoordig is? In die evangelie van Johannes sê Jesus: “God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” (Joh 4,24) Volgens die woorde blyk dit, asof ons God se teenwoordigheid nie op bepaalde plekke moet soek nie.

Maar Jesus Christus is mos self ons tempel. Deur Jesus Christus het God mens geword, het Hy ons vlees en bloed aangeneem. In Christus ontmoet ons vir God, en Hy het “ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” (2. Kor 4,6) En hierdie Jesus Christus ontmoet ons inderdaad op bepaalde plekke, naamlik daar waar sy woord verkondig word en waar sy sakramente uitgedeel word, waar die gelowiges in sy naam vergader.

Dalk het julle al ’n program gesien oor die hadj, dis die pelgrimsreis na Mekka, die geboorteplek van die profeet Mohammed. Elke moslem moet ten minste eenmaal in die lewe so ’n pelgrimsreis onderneem, as hy dan ’n goeie moslem wil wees. As ons dit op ons Christene wou oordra, dan sou beteken: ons moes almal ten minste eenkeer na Bethlehem of na Jerusalem reis, as ons nie van beter sou weet nie.

Maar dis nou alles nie meer nodig nie, want Christus is nie net in Bethlehem of Jerusalem of by die see van Galilea te vinde nie. Nee, Jesus Christus is orals teenwoordig, waar sy genadegawes gebruik en uitgedeel word.

“Ek is immers by jou!” sê Jesus. Wanneer jy in Jesus se woorde bly, dan woon Jesus in jou. “Ek is by jou! Ek het jou by jou doop op jou naam geroep, jy is myne.” sê die Here. Wanneer jy van die geseënde brood en van die geseënde wyn by die nagmaal eet en drink, dan ontvang jy die ware liggaam en die ware bloed van Christus. Hier waar die genadegawes van die Here bestuur, uitgedeel en geniet word, hier is die tempel van die Here, die gewyde grond, waar God Homself aan ons openbaar, waar ons van sy teenwoordigheid verseker word.

In God se teenwoordigheid moes Moses die skoene uittrek. Ons is vinnig om te sê: daar is geen heilige plekke nie. Dis wel reg: Die kerkgebou as sulks is nie heilig nie. Maar die gebou is daar om dit wat heilig is te omhul en te dien.

Wanneer ons nagmaal toe gaan, dan het ons deel aan die heilige. Hier by die tafel van die Here kom die een na ons toe, in wie se teenwoordigheid Moses sy skoene moes uittrek. Om die rede is dit nie sommer net ’n Sondag agtermiddag uitstappie wanneer ons nagmaal gebruik nie. Daarom skryf Luther in een van sy nagmaal gesange: “wil ons tot u tafel nader, laat U Gees ons waardig maak” (Laudate 166,3). Daarom sak ons op ons knieë of ons bly staan as ons die heilige nagmaal ontvang.

Ja, dit is ’n heilige maaltyd, wanneer ons by die tafel van die Here aansit. Maar dis tegelykertyd die heilige gawe vir ons, die onheiliges, wat juis daardeur geheilig word. Dis God se gawe vir ons. Ja, die gave van die heilige nagmaal wil ons geloof versterk. Hier kan jy vergiffenis ontvang, wanneer jou gewete jou pla. Hier kom die Here Jesus en verhul Homself in brood en wyn. Dis hemel op aarde. Hier mag jy eet en drink en weet: “Die Here is by jou!”

  1. God wil by ons wees, daarom het Hy ons verlos.
    Dis die tweede wat ons hoor. Destyds het Moses probeer om sy volk op eie houtjie te bevry. Hy het liederlik gevaal, nadat hy iemand vermoor het, moes hy in die woestyn in vlug. Dalk het hy nou getwyfel of God werklik sy volk sou red. En hoeveel keer twyfel ons nie ook, of God ons werklik met ons probleme gaan help?

Daarom sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.”
God voel saam, wanneer mense lyding en verdrukking moet verduur. Partykeer dink ons, die Here het nie ons gebede gehoor nie of Hy het verkies om weg te kyk. Die teendeel is waar.

Want hy het alreeds afgekom om sy volk te red en hulle te bevry. God het alreeds ’n plan hoe Hy vir ons gaan help. Wanneer die toekoms vir ons nog pikdonker lyk, sodat ons amper moedeloos wil raak, sien God alreeds, wat Hy gaan doen. Hy het alles alreeds fyn uitgewerk. Hy sien alreeds die stukkie aarde, wat Hy vir ons bedoel het.

Hy kom af aarde toe en stuur Sy dienaar Moses om Israel uit Egipte te bevry. God gebruik ’n mens om sy volk te verlos. Soos wat God afgekom het om sy volk deur Moses te red, so het Hy ook in Jesus Christus afgekom om ons te verlos.

Maar ons gevangenskap was nie die van slaverny in Egipte nie, maar van slaverny onder die sonde en onder die dood. Christus het mens geword om ons van die slaverny te bevry.

En Hy het dit gedoen. Omdat Christus aan die houtkruis gely, gesterf en weer opgestaan het, daarom mag jy weet: Jy is nie meer alleen nie!
Jy is nie alleen, wanneer jy al weer klei getrap en verkeerd gedoen het en wanneer jou foute jou gewete laat spreek nie. Jy is nie alleen, wanneer die pyn vir jou te veel word nie. Jy is nie alleen, wanneer die sorge van die lewe jou moedeloos maak. Christus is dan met jou. Hy het jou verlos. Jou sondes is jou vergewe. Hy sal jou help om jou pyn te dra. Jy mag jou sorge gerus aan Hom oorlaat. Hy wil hulle vir jou dra.

  1. Om die rede het Hy mos Sy Naam aan ons bekend gemaak.
    Dis die derde rede, hoekom ons mag weet, dat die Here met ons is. Maar wat is dan so besonders aan die Naam van die Here? Dat God ’n naam het, is vir ons vanselfsprekend, maar vir die Israeliete wat in slaverny in Egipte was, was dit beslis nie vanselfsprekend nie. Moses moet gaan en sy volk uit die slaverny bevry, maar in wie se naam en in water outoriteit sal hy optree?

Ons is skugter om ons naam sondermeer aan iemand anders bekend te maak, veral teenoor vreemdelinge. Want wie sy naam prysgee, kan ook op die naam geroep of aangespreek word. As ons naam bekend is, dan kan ons nie meer wegkruip nie, dan staan ons met ons naam by dit, wat ons gesê, gedoen of belowe het. Dan is daar geen plek meer vir anonieme boodskappe ens. Wanneer ons ons naam prysgee, dan kry iemand anders ’n houvas oor ons.

In wie se naam en outoriteit sal Moses dus optree? God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is. So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” (V. 14) God gee Sy heilige Naam prys. Maar is dit nie `n merkwaardige Naam: >‘Ek Is’<? God se Naam bly vir ons `n geheim. Ons kan nie dieper in Sy Naam binnedring as wat Hy ons toelaat nie. God raak nie afhanklik van enigiemand nie. Hy behou sy vryheid teenoor ons. Maar Hy laat dit toe, dat ons Hom op Sy Naam aanspreek. God gee Homself in ons hande. God gee vir ons Sy Naam, sodat ons Hom aanroep in gebed en smeking en lofprysing.

Terselftertyd herinner die hebreeuse letters van die naam EK IS aan die woord HERE (of JAHWE) soos God Homself meer as 400 jaar vroeër aan die Israeliete bekendgestel het. Na meer as 400 jaar praat Hy dus weer, maak Hy Homself opnuut bekend as die God van die voorvaders Abraham, Isaak en Jakob, Hy is m.a.w. absoluut betroubaar. God het nog `n ander naam vir ons gegee, die naam wat bo alle ander name is:Jesus Christus, die Here. As God se Naam weliswaar vir ons onbegrypbaar en ondeursigtig is, in die Naam van die Here Jesus Christus, is God vir ons teenwoordig. In die Naam van Jesus Christus, is God naby jou.

By hierdie Naam mag jy aanklop, wanneer jy die pad byster geraak het. By hierdie Naam kan jy om hulp aanroep, wanneer die pyn vir jou te veel word. Jesus beteken redder. Wie hierdie Naam aanroep, sal gered word. Deur Jesus Naam mag jy weet, God is met jou, vandag, en môre en elke dag van jou lewe. “Ek is by jou!” sê die ma, wat die kind aan die hand vat. “Ek is by jou!” sê die Here, wanneer Hy aan die einde van die diens Sy seën op jou lê. Amen.

Gebed: Here, hemelse Vader, dankie dat ons in U teenwoordigheid mag staan en nie hoef te vergaan nie. U wil met ons wees, in hierdie nuwe jaar, in als wat op ons wag. Daarom gee U vir ons U reddende Woord, U skenk U self in die heilige sakramente en U gee vir ons die Naam van U liewe Seun, Jesus Christus, in wie se Naam ons nou tot U bid. Amen.

Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

Ons help graag!

Skakels
Adres

Pretoria —
844 Arcadia Straat
Arcadia, 0007

Evangelies Lutherse St.Paulusgemeente © 2025. Alle Regte Voorbehou.