Wagwoord
Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk
na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.
– Lukas 9:62
Leesings
Sendbriewe – Efesiërs 5: 1-8a
Evangelies – Lukas 9: 57-62
Lied van die week
Laudate 76: O Jesus, as my sonde my kwel en bring in nood
- O Jesus, as my sonde my kwel en bring in nood, dan dink ek aan u wonde, u marteling en dood, toe U die las van al my skuld gedra het aan die kruishout in liefde en geduld:
- O wonder hoog verhewe! My siel verstaan jy reg? Die Heer verbeur sy lewe vir my die bose kneg. Hy word gegesel en bespot vir my, verlore sondaar, Hy self, die ware God.
- Die weg tot Gods genade is nou vir almal vry wat steun op Jesus dade, en wat hul skuld bely. Die skuldbrief wat teen ons getuig, is aan die kruis vernietig. Nou kan ons dankbaar juig.
- Ek bring van ganser harte nou en my lewe lank aan U vir al die smarte, o Jesus lof en dank. O laat die liefd’ en trou voortaan wat U aan my bewys het, my steeds voor oë staan.
Preek
Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees wees met julle almal. Amen.
Die Skriflesing vir die preek is die lesing uit die Ou Testament, Jeremia 20:7-11 :
“U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U het my oorweldig, U het die oorhand gekry. Ek word uitgelag, die hele dag; almal dryf die spot met my. Want telkens wanneer ek praat, moet ek dit uitskreeu. ‘Geweld en verdrukking!’ roep ek uit. Ja, die woord van die Here het vir my tot bespotting en hoon geword, die hele dag lank. Ek het al gesê: ‘Ek sal nie aan Hom dink nie, nie meer in sy Naam iets sê nie.’ Maar dan word dit in my hart soos ‘n vuur wat brand, vasgevang in my gebeente! Ek het my moeg gemaak om dit binne te hou, maar ek kon nie. Ja, ek het die geskimp van baie gehoor: ‘Verskrikking aan alle kante! Neem kennis! Ons sal dit bekend maak!’ Al my sogenaamde vriende verwag my val: ‘Miskien kan hy mislei word, sodat ons die oorhand oor hom kan kry en ons op hom kan wreek.’ Maar die Here is by my, soos ‘n vreesaanjaende krygsheld. Daarom sal my vervolgers tot ‘n val kom; hulle sal nie die oorhand kry nie. Hulle sal geheel en al beskaamd staan, want hulle sal nie slaag nie – ‘n ewige vernedering wat nie vergeet sal word nie.”
Gebed: Here, U het gesê, U Woord is soos vuur in die hart, wat alles verbrand, soos ‘n hamer wat rotse verbrysel. Daarom bid ons U: Praat met ons, brand alle weerstand in ons weg, breek die trots van ons harte, sodat ons geheel en al aan U behoort. Amen.
Liewe gemeente,
“Ek is nou siek en sat daarvan!” – “Ek kan en wil eenvoudig nie meer nie!” Is dit nie verbasend moderne woorde, wat ons hier by die profeet Jeremia hoor nie? Dis mos vandag ‘n algemene siekte onder ons: “Ek is siek en sat daarvan! Ek wil nie meer nie!” Die dokters reken, dat die getal mense, wat weens hierdie houding mediese behandeling benodig, nog massief gaan styg. Mag ek – sonder om dit te verduidelik – dit eenkeer so plat sê: die dokters en die politici is verkeerd as hulle vir ons wil wysmaak, dat dit in die eerste plek van ons lewensomstandighede afhang. Dis die ou idee, wat ook deur die kommuniste gepropageer is: “Verbeter die lewensomstandighede van die mense en hulle gaan gelukkig word!” Maar dis verkeerd. Dit het nog nooit gewerk nie. Want die eintlike probleem sit hier binne – in ons harte. In die binneste van ons menswees val die beslissing of iemand gelukkig is en innerlike vrede besit, selfs al is hy aan ‘n rolstoel gebonde of die teenoorgestelde: iemand leef gedurig aan die rand van wanhoop en vertwyfeling. Want mens kan alles hê, onder die beste moontlike omstandighede grootword – en nogtans leeg en teleurgesteld wees tov. die lewe! Meer welvaart lei nie outomaties na ‘n beter lewensgevoel nie – inteendeel!
Mens moet dit ter harte neem, as mens jouself wil vertroos met woorde soos: “As ek eers ‘n werk het, as ek eers ‘n nuwe huis besit, as ek eers ‘n gesonde familie het, dan sal dit beter met my gaan. Laat ek eers gesond word .. en so voorts” Nie waar, liewe gemeente, ons kul onsself met sulke gedagtes. Want dit kom op dit neer, wat binne in my is!
Ek praat hier ook nie van siektes soos depressie, wat uit die binneste kom of wat deur uiterlike lewensomstandighede gebore is. Die dinge bestaan; en mens hoef dit nie te verloën nie, want dis op sy eie ‘n moeilike hoofstuk, – maar daaroor praat ek nie. Ek praat nie oor depressie en ek wil ook nie meer praat oor ‘n algemene lusteloosheid en wanhoop nie.
Ek preek vandag oor die “Ek is nou siek en sat!” maar nie t.o.v. van ons eie lewe nie, maar t.o.v. van ons verhouding met God. Die uiterlike omstandighede van ons lewe speel daar weliswaar ‘n rol, maar ook hier geld: die ware gevegte speel in die hart af. In ons binneste val die beslissing, of ons die verfrissende lewe uit God ontvang – al dan nie.
Op hierdie, die grootste slagveld in menseheugenis – wil vandag se teks ons saamvat. Ons kry insae in die binneste van die profeet Jeremia.
In die begin hoor ons iets van die beproewinge van hierdie man van God. Nou, die woord “beproewinge” is eie aan die kerk se taalgebruik. Nie elkeen weet, wat dit beteken nie. Daarom moet dit aan ons verduidelik word – nes “kolf en paaltjie” of “boulbeurt” tot die krieket wêreld behoort en nie vir almal duidelik is nie.
Daarom – beproewinge is wedervaringe wat iemand maak, omdat hy in ‘n lewendige verhouding met God staan. Jeremia is as ‘n jongman deur God in besit geneem, sodat hy nie meer in beheer van sy eie lewe was nie. Die meeste mense sal mos bly wees om aan God te kan behoort. Die verskrikkelike vrees vir God en die noodlot is iets van die verlede. Die gewete vind berusting, omdat die sondes vergewe is. En mens is van harte bly om aan God te mag behoort.
Mens sou kon praat soos Jeremia dit doen – vyf hoofstukke voor ons teks: “Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is” (Jer 15,16). Nie waar, dis woorde wat van die intieme verhouding tussen God en Jeremia getuig. Maar toe kom die beproewinge. En dit lyk asof die band met God verbreek is. Dis asof die hemel leeg is en die gebede soos teen ‘n muur terugspring en nie verhoor word nie. Of mens ontdek diep binne in jou hart gedagtes waaroor jy skaam kry.
Mens wou so graag vir God en sy koninkryk werk, maar mens beleef verskrikkelike nederlae. Bittere vrae word in ons binneste wakker! Verwyte word na God se kant geslinger. En terwyl mens nog met jou eie dinge te doen het kom daar ook nog van buite probleme. Dis ten minste hoe dit met Jeremia gebeur het. Hy moet sy volk in God se naam vir die komende oordeel van God waarsku. Dis mos vanselfsprekend, dat niemand graag sal luister nie!
Gaan bietjie en praat met jou vriende, wat nie gelowig is nie en sê vir hulle: “Wie sonder Christus lewe, wie aanhou sonde doen sonder berou, gaan eendag vanuit God se oordeel in die hel beland.” Hulle sal beslis nie hande klap nie, maar sommer baie kwaad word.
Jeremia byvoorbeeld, het deur sy woorde ‘n vyand geword van die magtige hoëpriester in Jerusalem. Hy beland in die gevangenis en word in die blok gemartel. Daar sit hy nou en die gedagtes maal in sy kop en Jeremia bid: “U het my mislei, Here, – soos wanneer ‘n meisie deur haar geliefde verlei word – en ek het my laat mislei! En nou word ek heeldag uitgelag en almal spot met my. Gedurig moet ek hulle teëstaan en U oordeel aan hulle verkondig. En hulle – ja, hulle het gedurig U woord in hul monde, maar hulle wil nie daarvolgens lewe nie!”
Ons hoor niks meer van: “Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde en ‘n troos!” Nee! Nou hoor ons woorde soos: “Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur!” (Jer 20,8) Dis hoe Jeremia bid. Als stort vir Jeremia in duie, mens hoef slegs die hoofstukke voor en na ons teks te lees. Dis beproewing en aanvegtings!
Ja, die pad van ‘n Christen kan onder seker omstandighede verskrikkelik eensaam word. Mens raak moedeloos en raadop, die gebed verdroog en verbitter – die vreugde verdwyn! Mens kry jouself jammer en sê: “Ek is nou siek en sat daarvan!”
En by al die leed en selfbejammering en uiterlike probleme wat bykom, besef mens nie, dat die duiwel en sy trawante die asem aanhou.
Want agter al die beproewings staan mos die vors van duisternis, wat nie wil hê dat iemand uit sy heerskappy uitbreek en as ‘n vrolike Christen sy pad loop nie.
En uiteindelik – as die hart moeg geword het – gebruik satan sy laaste troefkaart en vra: “Wat maak dit tog saak? Waaroor kwel jy jou so? Gooi tog alles oor boord. Laat vaar jou christelike geloof. Dit maak tog in elk geval geen sin nie!” – “Toe dink ek, ek sal my nie meer aan Hom steur nie en nie meer in sy Naam praat nie.” (V. 9) so praat Jeremia.
Is dit nie ietwat onheilspellend nie? ‘n Ervare man soos die profeet Jeremia ervaar hierdie beproewing: “Ek sal my nie meer aan God steur nie; ek wil niks meer met die vervolging en die kerk en die geloof te doen hê nie, net rus en vrede hê, … ek is nou siek en sat daarvan!” Dis hoe dit met Jeremia gegaan het! En waar staan ons?
In die storms wat ons hart trotseer, snel ons verstand ons te hulp: Dis, asof Jeremia skrik oor sy eie gedagtes, en vir hierdie verskrikkelike beproewing. En sy verstand bied aan hom ‘n uitweg, ‘n kompromie. Wat met ‘n kompromie bedoel word kan mens goed verduidelik aan hand van ‘n egpaar, wat op Sondag agtermiddag gaan stap. Sy wil links rondop die dam loop – en hy liewer regs rondom. Elkeen gee dus iets op en hulle kom ooreen op die middel – en hulle beland in die water!
‘n Kompromie of ‘n skikking is ‘n besluit wat deur ons verstand geneem word; sonder kompromieë sou die menslike samelewing nie moontlik wees nie. Elkeen kry sy deel – beslis nie als nie – maar tog iets…! Dit klink na die beste oplossing. Maar t.o.v. God is kompromieë dodelik!
Nogtans bied sy verstand vir Jeremia hierdie blykbaar goeie oplossing: Dit sê vir hom: “Dit sou tog dom wees, om jou christenskap heeltemal oor boord te gooi. Het dit nie ook baie goeie dinge vir jou gebring nie? En wil jy dan nie meer in die hemel kom nie? Dis goed genoeg, as jy jou geloof nie so ernstig opvat nie.”
In die teks staan: “Toe dink ek, ek wil nie meer in sy naam praat nie.” Dit beteken: Mens vermy eenvoudig sulke situasies waar dit ongemaklik word, waar konflik ontstaan. Daarmee is die stryd weliswaar verby – maar ook die belydenis van die waarheid.
“Is dit nodig vir almal om te weet, dat ek ‘n christen is of aan watter gemeente en kerk ek behoort? – Nee, natuurlik wil ek aan ‘n gemeente behoort en ‘n bietjie geld kan hulle ook van my kry, ek is mos nie ondankbaar nie.
Maar andersins, wanneer ek besigheid doen, jy sal mos begryp, dan wil ek nie dadelik oor Jesus en die gebooie praat nie! En as ander heilsweë behalwe deur Jesus Christus verkondig word, dan hou ek myself in die agtergrond. Ek is maar soos ‘n duikboot. Ek duik net hier en daar op, soos dit my pas, – soos wat dit by ‘n kompromie gebruiklik is.”
En dan verdeel mens die lewe in gebiede waar God mag saampraat en gebiede waar Hy niks te sê het nie. En dan is Hy nie meer die nommer Een in ons lewens nie.
Liewe gemeente, hoe besef mens, dat mens t.o.v. God kompromieë maak? Twee dinge wil ek noem:
a. Mens besef dit, as mens in geheim blyraak oor die sondes en die foute van ander mense, ander Christene, ander gemeentes en kerke. Vir ‘n Christen, wat nie slegs aan God gehoorsam wil wees nie, is dit altyd ‘n berusting om te sien, daar is nog ander mense, vir wie God nie so belangrik is nie. En mens vind altyd nog iemand, wat in my oë slegter is as ek self. En die gewete word gesus:
“As hy nog in die hemel wil beland, dan is my plek beslis ook verseker!” Nie waar nie, God se maatstaf tel eenvoudig nie meer nie – en mens het lankal vergeet hoe mens verlos word. The foute van my naaste help om myself te regverdig.
b. Wie kompromieë tov. God sluit, waag niks meer met God nie. Hy / sy weet nog iets van God – maar God het weinig met die alledaagse lewe te doen. Ek weet nog, dat ek in die bybel behoort te lees en ek verwag dit van my kinders en familie – maar ek self lees nie meer nie.
Want ek het dit nie werklik nodig nie. Ek ken weliswaar die sin van die lydenstyd, maar Christus se lyding het sy betekenis vir my lewe verloor. Die gebed is net nog ‘n opsê van leë woorde; krag en moed vir my werksdag, troos en sin vir my lewe, gaan soek ek êrens anders – nie meer by God nie.
Liewe gemeente! Sulke kompromieë met God se wil is van die duiwel! Die beproewings word weliswaar minder, mens het vrede met die wêreld rondom jou. Maar die geloof verloor sy soutigheid en sy oortuigingskrag vir ander. “Ek wil dit mos nie oordryf nie!” Dis ‘n sin vol van uitvlugte en leuens!
Hoeveel van ons leef in sulke kompromieë – ja, ons het dit van ons ouers of van ons gemeente geleer en ons vind niks daarmee fout nie! Maar aan God kan ons net geheel en al of glad nie behoort nie!
En hoe gaan dit nou verder? Laat ons eerder vra: Hoe gaan dit verder, as dit ‘n goeie wending neem? Laat ons daarom na ons teks terugkeer.
Jeremia sê: “Ek het gedink … ek wil nie meer in sy Naam praat nie. Maar dan …” Ja, God self bring hierdie verhaal tot ‘n seldsame en ‘n genadige einde. “Maar dan word dit in my hart soos ‘n vuur wat brand, vasgevang in my gebeente!” (V. 9)
Dalk is daar iemand onder julle wat nes Jeremia daardie ondraaglike vuur in sy binneste voel. En ek wens, dat ek hierdie vuur by ieder en elkeen kan aanblaas, wat met God speletjies speel. Ons weet presies, dat ons lewe met God in orde moet kom – en hierdie gedagte ontketen ‘n storm in ons harte, wanneer ons na God se woord luister. Dis asof God altyd weer net daardie enkele boodskap vir ons het.
En dan kom Jesus in die storm van ons harte, en brei sy arms uit en roep: “Kom tog! Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is! – gemartel en beproef – ek sal julle rus gee! Kom!” Dis ‘n vuur wat blymaak en wat lewe gee – die helder lig van sy genade, roep ons huistoe. ‘n Verlange ontstaan om na die heilige bieg te kom en die vrede met God en sy geborgenheid te ervaar.
Wat gebeur dan? Dan laat mens jouself oor aan God se woord. Dan laat mens jouself val – tot in die arms van Jesus. Dan vergeet mens van al die kompromieë en die nadele wat mens om Jesus ontwil verduur, want mens ontvang ‘n geskenk wat beter is as al die rykom van hierdie aarde: vrede met God. En die storm en die beproewings is verby en mens kan weer die stem van Jesus vertrou, wat vir ons sê: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” (Jes 43,1)
Dan sê ons nie meer: “Ek is siek en sat daarvan!” Nee, ons sê met Jeremia: “U Here, is by my, U is magtig en sterk” (V. 11)
En uit hierdie woorde klink alreeds iets van die geloofsvertroue en die durf van God se kinders. Ja, God vertroos op ‘n wonderlike manier diegene, wat op Hom vertrou! Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen