Preek
Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, wees met julle in waarheid en in liefde! Amen.
Die Skriflesing vir die preek is opgeksryf in Joel 2:12-17 :
“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die Here. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat ‘n seëning agter Hom oorbly – ‘n graanoffer en ‘n drankoffer vir die Here julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal ‘n heilige vastyd, roep ‘n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die Here staan. Hulle moet së: “Spaar u volk, Here, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ”
Gebed: Here, dankie dat ons U lyde en sterwe weer kan herdenk en alles wat U vir ons gedoen het. Laat U Woord aan ons harte geseënd wees. Amen.
Liewe gemeente!
Ons in Suid-Afrika het nie so ‘n prominente tyd van die vas soos in ander lande nie. Verskillende kerktradisies speel hierin ‘n rol. Nogtans doen ons as Christene goed om hierdie gewyde tyd nie sommer so by ons te laat verbygaan nie, maar om dit baie bewus te gebruik in die aanloop tot die gebeure rondom Goeie Vrydag.
In baie Christelike gemeentes is dit by gebruiklik om aan die begin van die Lydenstyd oftewel die Vastyd ‘n bietjie as op die voorkop te druk as ‘n teken van berou en boetedoening. Partykeer in die vorm van ‘n kruis. Dis waar Aswoensdag sy naam vandaan het. Die as is ‘n teken van berou oor die sondes wat die oorsaak was vir Jesus se kruisdood.
Rou word ook buite die kerk deur uiterlike tekens uitgedruk, byvoorbeeld deur swart klere te dra of deur ‘n oomblik van stilte of deur hard te ween. Om te vas self is ook ‘n teken van berou en boetedoening en ‘n teken van rou oor die eie sondes. Wie vas, gaan nie eenvoudig voort met eet en drink en die gewone daaglikse roetine nie, maar staan ‘n rukkie stil, besin hom of haarself, en wen tyd om oor homself en sy verhouding met God na te dink.
Ons Skriflesing is so ‘n oproep om te vas. God die Here het dit deur sy profeet Joel uitgeroep.
“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die Here. (V 12) Ons wil hierdie oproep ter harte neem en drie dinge daaruit leer (ons kan drie woorde met “S” onthou): eerstens die sin van die vas, tweedens die seën van die vas, en derdens die solidariteit van die vas.
Eerstens: Die sin of die betekenis van die vas word veral duidelijk in hierdie sin: “Skeur julle harte, en nie julle kiere nie, draai om na die Here julle God!” (V 13)
In Bybelse tye was daar ‘n uiterlike teken van berou, boete en verootmoediging wat vandaag nie meer algemeen gebruik word nie: ‘n Mens het sy bo-kiere by die neklyn of die V-neck geskeur. God sè nou eger baie duidelijk: hierdie aksie is heeltemal oorbodig as die mens nie met sy hele hart daarager staan nie. Dit is oorbodig as die mens nie sy skuld opreg en eerlik erken nie, as hy nie met sy hele hart daaroor bedroef is nie, en as dit hom nie in die arms van die genadige en barmhartige God lei nie.
Dit geld basies nog vandaag. Ons Vastyd moet hart-verskeurend wees. Ons moet by ons gewone daaglikse roetine stilstaan en oor ons sondes nadink. Baie Christene begin ook hierdie jaar die sogenaamde Vastyd weer met die aksie “sewe weke sonder”: Tot Paasfees weerhou hulle hulle van die gebruik van alkohol, soetgoed, televisie of sosiale media soos Facebook, Tik Tok en Instagram.
Hierdie aksie kry eger eers dan ‘n geestelike sin wanneer die innerlike besinning self by hierdie uiterlike tekens van besinning kom. Die “sonder” van die sewe weke moet gevul word deur ‘n “met”: met erkentenis van sondes, met berou en verootmoediging, met ‘n spesiale toegewydheid aan God.
Sulke besinning of refleksie oor ons lewe is baie belangrik, anders bly dit siegs ‘n uiterlike liggaamilke oefening. Sonder die erkentenis van sondes, sonder ware berou kan niemand in God se koninkryk kom nie. Sonder berou en boetedoening is daar geen salige sterwe nie. Sonder omkeer na God bly die hemel geslote. Sulke hart-verskeurende besinning en refleksie is die belangrikste van alles. Dit is so belangrik, sé Joel, dat dit selfs die moeite werd sou wees om die bruidegom en die bruid in hul huweliksnag te steur, as dit regtig nodig sou wees.
Daarom sé ons Bybelvers: “Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer.” (V. 16)
Tweedens: Wie tot so ‘n ware, innerlike, opregte en hartverskeurende vas bereid is, sal die seën van die vas ontdek. Wat is hierdie seën?
Wat het ons daarvan om van ons sondes bewus te word, om ons daarvan weg te draai en ons tot die Here te wend?
Heel eenvoudig: Ons vind ‘n genadige, barmhartige, geduldige, goedhartige, vergewensvolle God. “want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring.” (V 13) roep Joel.
Al maak dit seer om jou hart in opregte rou te breek, is dit net op hierdie manier dat die hart ‘n skeur, ‘n opening kry waardeur God se liefde kan inkom. Wie sy hart nie in berou breek nie, kapsuleer dit, sluit dit vir God toe. Die Here bly vir hom vreemd, Hy bly buite.
Maar ‘n gebroke, geskeurde, verbruiselde hart word nie deur God verag nie, en daar kan Hy ook sy intrek neem. Met vaderlike liefde ontferm Hy Hom oor die sondaar, vertroos, genees, herbou, vermuwe, heilig en skenk aan hom die ewige lewe. Dit is die groot en wonderlike seën van die vas: God se geskenk van verlossing deur Jesus Christus vir almal wat onder hul sonde ly en ween.
God skenk sy wonderlike gawe aan elke mens wat berou het oor sy sonde en na vergifnis smag. Dit gaan dus eerstens oor die verhouding van die individuele hart met God. Tog het sonde, boete en God se vergifnis ook iets met die menslike gemeenskap te doen.
Ons besef dit veral duidelik in die Ou Testament, waar God ‘n hele volk as sy eiendom gekies het, so te sé ‘n model-volk vir Sy toekomstige verlossingswerk van die hele mensdom. Ook sy oproep tot bekering in die mond van die profeet Joel was nie tot individue gerig nie, maar tot die hele volk Israel.
Hiermee kom ons derde punt, die solidariteit van die vas.
Sonde woon nie net in elke individu se hart nie, maar versprei soos ‘n kankeragtige gewas in die gemeenskap. En ook die gevolge van sonde en God se straf moet dikwels gesamentlik as gemeenskap gedra word.
By die Israeliete was daar tydens die profeet Joel se tyd ‘n erge sprinkaanplaag. En so was ook die noodsaaklikheid van die hart-verskeurende bekering aan almal gegee.
“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” roep die profeet. En omdat daar toe nog geen luidsprekers was waarmee die oproep tot vas na die verste uithoeke gedra kon word nie, moes mense antieke metodes gebruik: “Blaas die ramshoring op Sion, bepaal ‘n heilige vastyd, roep ‘n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge.” (V 15)
En dan word alles wat bymekaar moet kom, genoem, selfs die suigelinge. Hulle almal moet by die verootmoedigingsdiens bymekaar kom, hulle almal moet saam voor God hulle sondes bely en vir sy barmhartigheid bid.
Ook die Christendom, die volk van God in die Nuwe Testament, is tot so ‘n gemeenskaplike aksie opgeroep.
Christenskap is nie ‘n private saak nie, en boetedoening is dit net gedeeltelik. Heel doelbewus het die Here ons geleer om te bid: “Vergeef ons ons oortredinge.” Heel doelbewus herinner Hy alle Christene om die Eredienste en godsdiensbyeenkomste nie mis te loop nie, waar Hy ons met sy vergewing en goedheid so naby is.
En daarom wil ons ook vandag heel doelbewus saam ons skuld bely en ons verootmoedig – nie net met die lippe as ‘n liturgiese ritueel nie, maar bowenal met die hart, met ‘n hart wat seergemaak en geskeur word van berou, en wat daarom nou wyd oopstaan om die Verlosser Jesus Christus en God se liefde te ontvang. Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen