Wagwoord
Die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.
– 1 Johannes 2:8b
Leesings
Sendbriewe – Efesiërs 3: 1-7
Evangelies – Matteus 2: 1-12
Lied van die week
Laudate 64 : O Jesus, eewge Koning, verheerlik op die troon.
- O Jesus, eewge Koning, verheerlik op die troon, die hemel is u woning, die sterre is u kroon. Gee dat ook hier benede die mense wyd en syd u grote ryk van vrede mag ken tot saligheid.
- ‘n Helder ster beduie die pad na U, die Kind, waar Oosterse getuie in U hul Koning vind. O seën die verspreiding in Oos, Wes, Suid en Noord van u Woord van verblyding, die Evangeliewoord.
- U is die grote Koning, soos in die Skrif vermeld; steun nie op mags-vertoning of mannekrag of geld. U sieraad is genade, en u geregtigheid slaan ons in liefde gade met goedertierenheid.
- Laat skyn in my, o Koning, u Woord, die helder ster, en maak in my u woning dat sond’ en kwaad bly vêr. In liefde, Kind, beskerm U my voordat ek beswyk. Kom, Koning, en ontferm U, skenk my u koninkryk.
Preek
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus Amen.
Die Skriflesing vir die preek is die Evangelielesing wat ons gehoor het Matt 2,1-12:
Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.’ ” Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewijs.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewijs. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.
Here, laat u woord aan ons harte geseënd wees. Amen.
Liewe broers en susters in Christus,
Daar is ‘n nuwe opkomende ster! Sulke uitlatings kry ons af en toe te hore. Daarmee word gewoonlik nie bedoel, dat ons na die hemelruim staar en ‘n nuwe ster soek nie. Nee, met die gevleuelde woorde bedoel ons bloot, dat daar ‘n nuwe superster is, wat vir hom/haar naam gemaak het as held in die sport of die musiek- en vermaaklikheidswêreld, ‘n nuwe kricket of rugby-ster.
Suike supersterre verskyn mos amper van nêrens en met hul charismatiese uitstraling, met hul talent is hulle in staat om die mense massas saam te sleep en te begeester.
Mens mag daaroor grappies maak of daaroor verbaas wees, feit bly staan, daar is af en toe sulke opkomende super-sterre, wat almal se aandag trek, wat so ‘n uitstraling het, dat hulle deur die massas amper soos afgode vereer en aanbid word.
En nou hoor ons in ons lesing vir die preek van ‘n ster, wat die sterrekykers in die ooste so betower het, dat hulle hom sonder meer volg.
Maar anders as ons voorbeeld uit die sportwëreld was dit nie die ster self, wat deur die wyse manne aanbid is nie, die ster het hulle bloot na die doelwit van hul reistog begelei, na die kind in die krip van Betlehem. Ja, hierdie kind wou hulle aanbid en vereer. Dit was die doel van hul reis, om voor die Kind op die knieë te val en hom te aanbid.
Maar wat het dit met ons te doen, mag ons vra.
Verbasend baie, want wat doen ons anders, as ons hier in die erediens saamkom!?
Nee, dis nie ‘n paar skoollesse wat ons hier ontvang om die kerk dan ‘n bietjie slimmer te verlaat as wat ons binnegekom het nie.
Want hier in die erediens staan ons nou alreeds in die teenwoordigheid van dieselfde Here, wie ons eenkeer sonder oponthoud sal aanbid. Ons Eredienste is daarom ‘n voorsmaak van dit, wat die hemelse erediens uitmaak: aanbidding, aanbidding wat vry is van menslike motiewe, aanbidding wat niks bring nie en waarin ons nogtans die diepste sin van ons menswees vind.
Aanbidding is aan die ander kant ook dit, wat die maklikste uit die erediens verdwyn, omdat mens dink hulle het nodig om tyd te spaar. Maar dis mos nie oortollige tyd, as ons Christus die Here met ons gebede en gesange aanbid nie, as ons voor die uitdeel van die heilige Nagmaal op die knieë neersak en sing “Christus Godslam heilig”, omdat ons Hom aanbid, wat nou met sy liggaam en sy bloed op die altaar teenwoordig is.
En nogtans geskied aanbidding nie slegs wanneer ons in die erediens sing nie, nee, dis eerder ‘n houding wat die hele erediens raak. God is mos werklik teenwoordig – as ons dit eers besef, dan sal ons nie verveeld wees of gedurende die preek of tydens die nagmaal gesels of op ons selfone tik nie. Want ons weet mos: Hy self is liggaamlik hier teenwoordig.
Daardie aanbidding mag ons van die wyse manne leer, wat destyds uit blydskap op hul knieë neergeval en Hom aanbid het. In die loop van die tyd het daar baie legendes rondom die sterrekykers uit die ooste ontstaan. Daar is van hulle konings gemaak vanweë hul koninklike geskenke en uit die drie geskenke het mens afgelei dat dit drie moes gewees het. Al daardie is bloot legendes en hoef ons nie te steur nie, van veel groter belang is, dat drie wonderwerke gebeur voordat hulle aanbiddend voor die Christuskind neersak:
hulle laat hulself deur die ster lei
hulle laat hulself deur God se woord lei
hulle word nie deur die armsaligheid van die kind afgeskrik nie
Mens kan mos vandag astronomies verklaar, wat destyds in die jaar 7 v.Chr in die hemelruim te siene was: toe daardie ongewone sterrestelsel van Jupiter, die koningster, en Saturnus, die ster van die Jode, so verskyn het soos dit slegs eenkeer in ‘n paar duisend jaar voorkom. As mens in gedagte hou dat die Christen momik Dionysius Exiguus homself by die opstel van die christelijke tydsbetrekking met presies sewe jaar misgis het omdat hy die namensverandering van ‘n romeinse keiser vergeet het, dan verduidelik dit ook nog die verskil in sewe jaar.
Maar wat nog meer verbasend is, is dat hierdie sterretekens die wyse manne uit die verre ooste in beweging bring om die lang pad aan te durf, om ‘n koning te aanbid, wat so belangrik is, dat selfs die hemel sy grootheid weerspieël. Ja, hulle het honderde of duisende kilometer op die harde rug van hul kamele afgelê omdat hulle hierdie hunkering gehad om die nuutgebore koning te aanbid.
Ja, as christene weet ons mos, dat ons lewe nie deur die sterre bestuur word nie, dat die posisie van die sterre geen invloed het op dit, wat hier op aarde gebeur nie, dat sterretekens willekeurig deur mense ontwikkel is, ja dat astrologie ‘n redelike deurmekaarspul is. En tog gebruik God die heidense geloof van die sterrekykers, om hulle deur hierdie heidense geloof na die kind te bring. Ja, daaroor kan ons slegs verbaas wees.
Maar net so verbasend is die weë, wat God tot vandag toe gebruik om mense na sy nuutgebore koning te bring. Party van ons is deur ons ouers na Christus gebring, vroeg in ons lewe toe ons gedoop is en hulle het ons toe in die geloof onderrig. Dalk was daar mense in ons lewe gewees, wat ons na Christus teruggebring het, deur dit wat hulle gedoen, bely of vir ons gesê het. Party het heel toevallig deur die huwelik in ons kerk, in ons gemeente beland en het op die manier by Christus uitgekom. God het baie maniere om mense na die nuutgebore koning van Betlehem te bring.
So het ek nou die dag van ‘n jong moslem-meisie gelees, wat juis in die Koraan, daardie anti-christelijke boek, iets van Jesus, die profeet gelees het. Daarop het sy na Jesus begin soek. En Hy het Homself aan haar geopenbaar deur sy heilige woord, die bybel. In Berlyn berig ‘n Pastor van ons susterkerk, dat meer as 1000 moslems in sy gemeente gedoop is. Eilike van hulle het van Jesus Christus gedroom. Daarmee het hulle soektog na die kind in die krip begin wat hulle toe in sy Woord gevind het.
Laat ons daarom gerus verbaas wees oor hierdie sterrekykers, wyse manne uit die ooste, wat hierdie ster volg; laat ons verbaas wees oor God se moontlikhede om mense met sy blye boodskap te bereik – tot vandag toe.
Maar dan beland die wyse manne uit die ooste op hul reis eers by die verkeerde plek: hulle beland in Jerusalem, in die hoofstad, by die koning se paleis. Ja, dit is ook ‘n belangrike stukkie inligting, wat ons uit vandag se evangelie kan saamneem:
God kan weliswaar ook heidense en vreemde gelowe gebruik, om mense na sy Seun Jesus Christus te bring. Maar die heidense gelowe self, bring ons nie na die doelwit nie, hul lei ons eerder op ‘n dwaalspoor.
Want op die ou einde is al die vreemde godsdienste tog net ‘n produk van die menslike gees, van menslike fantasië. Hulle mag vir ons betowerend lyk, maar op die ou einde laat hulle ons tog by Jesus Christus se aartsvyand beland. Nee, dit gaan nie bloot daaroor om op die een of ander manier godsdienstig te wees nie, ek kan ten spyte van al my godsdienstigheid die doel van my lewe heeltemal misloop.
Maar nou geskied die volgende wonderwerk: Die wyse manne gaan vra by Herodes, waar hulle die nuutgebore koning kan vind. Herodes skrik hom asvaal toe hy die boodskap hoor en laat dadelik die skrifgeleerdes roep. Op grond van hul gefundeerde bybelkennis kan hulle vir hom presiese inligting gee: Volgens die profeet Miga sal die Christus in Betlehem in Judea gebore word.
En hierdie woord van God, wat koning Herodes net teësinnig van gebruik maak, bring die wyse manne dan tog nog op die regte pad na die kind in die krip.
Dis nie anders in ons lewe gewees nie. Daar mag verskillende paaie gewees het, hoe God ons gelei het, voordat ons in hierdie gemeente beland het. Maar iets is by ons almal dieselfde: op een of ander tyd, manier en plek het God se woord ons ore bereik en ons na Christus, na die krip gelei.
Ja, dis ‘n wonderwerk, dat julle daardie woord van God geglo het soos die wyse manne destyds ook. Maar dis net hierdie wonderwerk, wat julle na julle doelwit, na Christus toe gelei het; sonder God se woord, sonder geloof in hierdie woord sou julle Christus nie persoonlik ken nie, sou die kersfees, wat nou sopas agter die rug lê vir ons bloot ‘n familiefees wees, sou ons wel die geboorte van Christus gevier het, maar die kind self sou ons oor die hoof gesien het.
Die wyse manne uit die ooste is die eerstes uit die heidennasies, wat hulle deur God se woord laat lei om die nuutgebore koning te aanbid. Deur God se genade is ons ook vandag in hierdie erediens om presies dit te doen, om die nuutgebore koning te aanbid.
Ja, die tyd van verlossing het aangebreek. God het deure oopgemaak, ook vir ons. Ons herdenk om die rede vandag ook die sending, sendingwerk wat baie van ons voorsate na hierdie land gebring het en wat ook die blywende opdrag van die kerk is. Sendingwerk is die kerk in beweging! Dit het Wilhelm Löhe, ‘n lutherse teoloog eenkeer gesê. En dis ‘n baie belangrike stelling. Want sendingwerk hou die kerk lewendig. Sendingwerk is jou en my opdrag. Ons is die instrumente, wat God wil gebruik om die blye boodskap aan diegene te vertel, wat dit nog nie ken of nie glo nie; om te vertel, ons mag kom om die kind in die krip te aanbid.
Wil ons dit nie vanjaar weer een van ons top prioriteite maak nie, om te vertel van dit, wat ons in die geloof ervaar het, om mense uit te nooi na Christus, na sy kerk, na sy woord!?
En dan beland die wyse manne uiteindelik in die dorpie Betlehem, hulle volg die ster wat uiteindelik bokant die huis gaan staan het, waar die Kindjie was. Matteus praat van ‘n huis. Dit lyk dus asof Josef en Maria in die dae na die geboorte van die kind tog die stal kon verlaat en ‘n huis kon betrek.
Maar ook hierdie huis, waarin die wyse manne vir Christus vind het geen prag en praal nie. Dit het vermoedelik bloot uit een vertrek bestaan, met Maria en haar kind êrens in die hoekie.
Die wyse manne lyk dus ‘n bietjie komieklik met hul reuse peperduur geskenke, met die goud en die wierook en die mirre. By die koning se paleis sou hulle daarmee kon beïndruk, maar waarvoor sal hierdie jong meisie met die klein kindjie nou sulke rykdomme nodig hê?
Ja, is hierdie armsalige ou pondokkie met sy minderwaardige inwoners regtig die doelwit van hul reis? Of het die wyse manne dalk ‘n reuse fout begaan?
Maar die wyse manne laat hulself nie deur die armoede misgis nie. Want hulle gaan die huis vol blydskap binne en gaan kniel voor die Kindjie, om aan Hom hulde te bewijs, die Kindje wat nie anders lyk as die ander kinders van Betlehem nie. Ja, dis ‘n wonderwerk, dat wyse manne hierdie Kind as God aanbid.
En niks anders geskied as ons hier in ons gemeente bymekaar kom? Wat is dan so besonders in ons kerk om te sien?
Ons getalle is maar klein, die gesang partykeer baie yl (veral met vakansietye), ‘n armsalige pastor op die kansel, ‘n paar stukkies brood en ‘n kelk met wyn op die altaar. Waarlik niks besonders nie, niks, wat ons dadelik op ons knieë sou laat val nie.
En nogtans sak ons op ons knieë, as ons enigsins daartoe instaat is, om Hom te aanbid, na wie die pastor met sy gebrekkige woorde verwys, om Hom te aanbid, wat in die aardse gestalte van brood en wyn inderdaad onder ons teenwoordig is.
En onderwyl ons Hom aanbid, voor Hom neerval, verander iets in ons lewe, soos destyds by die wyse manne ook: Van belang is nie meer hoeveel ons besit nie, hoe suksesvol ons in die lewe is nie of hoe ons voel nie. Van belang is alleenlik, dat ons Hom voor ons het, wat die vervulling van ons lewe beteken en vir wie ons beskikbaar wil wees met als wat ons besit en het. Nee, dis met ons verstand onbegrypelik, wat ons hier doen, dat ons inderdaad in `n stukkie brood en `n slukkie wyn ons Here en ons God ontvang. Dis `n wonderwerk, wat tegelykertyd vir ons `n voorsmaak gee van dit, wat ons aan die einde van ons lewe verwag.
Ja, onbegryplike wonderwerke het gebeur, wat jou hierheen gebring het, na hierdie kerk, na die altaar, na die krip van Jesus Christus. Ja, daaroor kan ons maar net verbaas wees en Hom – Jesus Christus – aanbid – nou in hierdie erediens en dan eenmaal in ewigheid. Amen.
Gebed:Here Jesus Christus, ons is stomgeslaan oor die wonderwerke wat U in ons lewens gedoen het toe U ons deur die doop U eie gemaak en ons tot geloof gebring het. Nou mag ons U aanbid en in die heilige nagmaal ontvang. Help ons om ander uit te nooi om ook hierdie wonderwerke te ontvang. Amen.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen