Skip to content Skip to footer

Oesfees

Wagwoord

Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.
– Psalm 145:15

Leesings

Sendbriewe – 2 Korintiërs 9: 6-15

Evangelies –  Lukas 12: 13-21

Lied van die week

Laudate 188: Ek sing u lof met blye mond

  1. Ek sing u lof met blye mond, o God, my hart se lus, in elke vroeë oggendstond en saans as ek gaan rus.

  2. Ek weet dat U van ewigheid die Bron en Oorsprong is van alle goedertierenheid. Wie sal dit kan betwis?
  3. Wat ons in hierdie lewe het dit kom van U, o Heer U stuur, ook sonder ons gebed, dit op u skepping neer.
  4. Wie span die hoe hemelboog bo ons uit lieflik blou? Wie laat dit reën van omhoog, besproei ons veld met dou?

Preek

Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, wees met julle in waarheid en in liefde! Amen.

Die Skriflesing vir die preek kom uit Jesaja 58:7-12:

Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Is dit wat Ek op ‘n vasdag wil hè: net dat ‘n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ‘n biesie en in sak en as sit? Noem jy dit ‘n vasdag, ‘n dag waarvan die Here hou? Is die vas wat Ek wil hè, nie Dit nie: om die wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir die wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n biyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom. Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sé: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan die wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van die wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.

Gebed: Here, ons dank U vir die aardse gawes, waarmee U ons ryklik seën. Ons dank U vir u Woord, waardeur U nou met ons wil praat. Laat dit ryklik vrug voortbring. Amen.

Liewe broers en susters in Christus,
die teks vir die preek kan ons met al sy eise amper omslaan.
Laat ons daarom vandag heel anders begin, met ‘n bekende

Oesdankfees gesang:
Die mens bewerk die lande, hy ploeg en swoeg en saai; maar in die Heer se hande staan dit of hy sal maai. Verniet dat ons met sorge ons vroeg en laat bemoei, stil laat Hy en verborge die korrels kiem en groei. (L 416,1)

Vandaq is Oesdankfees. Ons kyk terug na die werk wat ons die laaste jaar verrig het: in ons beroepe, by die firma, by die huis, in ons tuin, by die kerk en gemeente of ons stokperdjie, dalk op ‘n plaas. So baie dinge kon ons begin, doen en voleindig. Ten spyte van moeilike tye vir baie mense kon die meeste van ons nog steeds koop en verkoop. En daar is heelwaarskynlik geeneen onder ons, wat so min besit, dat hy moes honger ly.

Maar wat sou gebeur het, as God se seën nie met ons was nie, as die Here van die skepping nie stil en amper onbemerkbaar krag en groei gegee het nie. Met die oesdankfees besef ons eenvoudig, dat ons niks sou bereik het as God nie MET ons doen en late was nie.

Laar ons daarom van harte sing, die tweede vers van die gesang 416:
Hy kroon ons werk met seën vol goedertierenheid; Hy stuur ons dou en reën en sonskyn op sy tyd. En halm en aar ontwikkel, die lande staan vol graan, dan gтур ons na die sekel en dra die gerwe aan. Elke goeie gawe kom van die Vader neer, vertrou op Hom, vertrou op Hom. en bring Hom dank en eer.

Ons word herinner, dat nie alles so gekom het soos ons wou nie, party dinge het heeltemal anders gekom. Daar was nie slegs die vreugde van die oestyd nie, tussendeur was daar ook die trane van die moeilike tye. En nogtans gaan dit baie goed met ons, onverdiend goed. En selfs al kon ons nie alles mooi begryp, wat gebeur het nie:

God verpak sy seën partykeer heeltemal anders as wat ons verwag, verpak sy seën in ons beswaarlike doen en late, saggies en onopvallend. En as ons aan die einde geleer het om uit te pak, dan mag ons met oesdankfees dankbaar bely: God was tog IN ons, in ons doen en late, anders sou daar niks van gekom het nie.

Laat ons daarom van harte sing, die 3 strofe van die gesang 416:
Die Skepper en Regeerder van alles wat bestaan, laat ons sy roem vermeerder. Loof, sterre, son en maan! Juig, berg en dal en strome! Bruis, onweer, storm en see! Sing, blommetjies en home, kom al wat leef, sing mee: Elke goeie gave kom van die Vader neer, vertrou op Hom, vertrou op Hom en bring Hom dank en eer.

En as ons daaroor nadink, van wie kom alles wat ons het, vermag en bewerk? Kom dit uit niks, of uit ons eie beplanning, ons eie doen en late? Die natuurrampe oor die hele wèreld: hongersnood, vloede, aardbewings, veranderende weerpatrone ens., wys vir ons hoe swak die mense tog is, hoe afhanklik. Hoe sou ons kon lewe, as God nie die wèreld aan ons toevertrou het nie.

Als kom VAN Hom, omdat alles ’n Skepper het, wat die son laat opgaan oor goeie en slegte mense, wat laat laat reën oor regverdiges en onregverdiges. Hy het ons geseën met liggaam en siel, oë, ore en alle ledemate, Hy het vir ons ’n verstand gegee; klere en skoene, voedsel en drank, huis en haard, familie, grond, vee, werk en allerhande praktiese hulmiddels soos ’n rekenaar, slimfone ens.

Ons kan selfs uit die vierde bede van die Onsevader aanhaal: Hy het vir ons goeie weer besorg, vrede, gesondheid, Hy het ons met goeie vriende en getroue bure geseën. Ons leef in ’n stad met so baie voordele soos winkels en werksgeleenthede, skole en onderwysers, goeie paaie, water en ligte. En ten spyte van moeilike tye kan ons nog steeds koop en verkoop.

Ons bely vandag dankbaar God se Skepping en als wat ons uit God se hande ontvang om die Skepping te onderhou. Laat ons daarom nou van harte sing, vers 4 van die gesang 416: Wie is, soos Hy, genadig, so liefdevol en goed? Wat ons met brood versadig en ook die diere voed; wat vol barmhartighede oor heel sy skepping waak en ons reeds hier benede sy troos en heil laat smaak? Elke goeie gave kom van die Vader neer, vertrou op Hom, vertrou op Hom en bring Hom dank en eer. (L 416:4)

God se genade slaan ons steeds gade; om met sy seën ons te bejeën, daartoe is altyd sy goedheid bereid.

Slaap ons: Die Sterke dek ons met sy vierke. As ons dan opstaan laat Hy ook weer opgaan oor ons die son van sy vriendelikheid. (L 389:3)

So sing ons met een van Paul Gerhard se gesange.

My tyd is in God se hande. Blydskap is ook ’n geskenk van God, elke nuwe dag, wat ons in sy Naam mag begin, elke aand, wat ons in sy hande mag oorgee. As ons hart vrede mag hê, as ons lewe hoop het in Jesus Christus. As ons nuwe krag ontvang vir die lewe uit God se gawes: die gawe van die Vader, wat ons geskep het en onderhou; en die Seun, wat ons verlos en van ons God se kinders maak; en die Heilige Gees, wat ons deur die krag van die geloof met nuwe hoop vervul, sodat ons die donker ure agter ons kan laat.

Alles mag OP Hom uitgerig lewe, ook dit wil ons in die aangesig van ons verganklikheid op oesdankfees bely. Laat ons daarom van harte sing, die refrain:

Elke goeie gave kom van die Vader neer, vertrou op Hom, vertrou op Hom en bring Hom dank en eer.

Uit die nadenke spruit die dank voort, dis waartoe hierdie eenvoudige gedagtes van die lied van Matthias Claudius ons wil lei. Dis eenvoudig nodig. Ware Oesfeeste, ware oesdankfeeste het ’n goeie fondasie nodig. Daar moet stof tot nadenke wees: Niks sou moontlik wees, nie eens hierdie wonderlike dag, as God nie MET ons was nie, as Hy nie IN ons werk was nie, as dit nie VAN Hom was nie en as dit nie OP Hom uitgerig was nie.

Uit die dankbaarheid kom die stof tot nadenke. Iemand het eenkeer gesê: As ons dank, dan loer die arm en behoeftige mense oor ons skouers. En daarmee is ons by die teks vir die preek:

Die volk Israel kan God nie begryp nie:. Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” (V. 3)

God se antwoord: Julle hou feestelijke vasdae. Julle hardloop rond met koppe wat hang. Dink julle, julle kan My daarmee oortuig, van My verwag om te luister. Julle sit in sak en as en hardloop met verbitterde gesigte rond. Dink julle, dis iets waarvan Ek hou? So kan julle My nie oortuig nie!
Is die vas wat Ek wil hé, nie dit nie: dat jy vir die wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n bbyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? (V. 7)

En ons vandaq? Nee, ons vier vandaq seker nie ’n bittere Erediens nie? Ons dank God hopelik met vrolike sang en gebed. Dis mos hoe ons ons Erediens mag verstaan. En tog wil die arm en behoeftiges onder ons saam met ons dankbaarheid bly raak. Hulle sé as’t ware: “Julle kan ons nie van julle Dankerediens uitsluit nie!”

Hulle sé as’t ware: “Julle dank God vir sy liefde, waarmee Hy julle ryklik geseën het aan liggaam en sie!. Ons wil deelneem aan julle dankgebed: ons wat honger is, vir wie daar in elke kerkgebed gebid word. Ons wil deelneem aan julle dankgebed: ons, die armes en die bedelaars, en die gevangenes en diegene wat in die hospitale en in die kinder- en ouetehuise lé. Ons is deel van julle dankgebed.

En ook ons, wat die evangelieboodskap nodig het, ons die mede-gemeentelede, ons wat deur die lewe gebuig is, ons buig ons in julle dankgebed. Ja, ook ons, jou familie, jou kind, jou eggenoot, wat op jou liefde wag, ja ook ons buig ons in jou dankgebed en wil deelneem daaraan.” Al hierdie mense wat ek genoem het, wil deelwees van die liefde, waarmee jy vandaq dankie sé.

En die wonderlike is God se belofte: Jou praktiese dankgebed van naasteliefde, wat God van jou verwag en Jesus se liefde jou voorgee, dit dra die belofte van God se seën vir jou lewe. Ja, “verwag” is glad nie so ’n slegte uitdrukking nie. Want dis God se resep vir ’n geseënde, dankbare christenlewe.

Hier in ons teks vir die preek maak God van vrolike beelde gebruik om ’n lewe te beskryf, waar ’n dankgebed uitloop op die dankbare uitdeel van God se gawes. – jou lig sal vir jou deurbreek soos die rooi van die oggendson, jy sal vinnig herstel, jy sal om hulp roep, en Hy sal sé: Hier is Ek! Hy sal jou sterk maak; Jy sal soos ’n natgeleide tuin wees, soos ’n waterbron waarvan die water nie teleurstel nie. Jou mense sal die oeroue puinhope herbou, die fondamente van geslagte gelede saljy weer oprig. (V. 8-12)

Ons hoor niks van die las om te moet deel nie. Diegene wat dankbaar uitdeel, sal nie te kort skiet nie. Inteendeel, jou lewe sal ryker wees, meer geseënd, jy sal hoop bring in ’n wëreld wat alle hoop laat vaar.

Maar instede van om verder te praat, laat ek ’n diep verhaal vertel uit die ou China. – Dit vertel van ’n jong paar, wat die bruilofsfees wou vier.

Hulle het alle inwoners van hul dorp uitgenooi. Omdat hulle albei arm was, het hulle die gaste gevra, om tog elkeen ’n bottel wyn saam te bring. By die ingang na hulle klein huisie sou ’n groot vaat staan, waar elke aankomende gas sy wyn kon ingiet. So sou elkeen dan van die wyn van die ander kon drink, en almal sou saam kon blyraak.

Die troudag het gekom. Baie gaste het gekom. Toe hulle die fees begin, het die dienaars na die groot vat gestap en elkeen van die gaste se glase volgemaak. Maar die gaste was hoogs ontsteld toe hulle besef, dat daar in die vat slegs water bymekaargemaak is. Elkeen het rooi geword van skaamte, toe hulle besef, dat hulle netso gedink het soos al die ander:

“Die een bottel water, wat ek in die vat gooi, sal mos niemand kan proe nie!” Maar nou het dit duidelijk geword, dat elkeen ten koste van die ander een wou feesvier. Toe hulle uitmekaar gaan, het elkeen geweet: “My selfsugtigheid het bygedra, dat die bruilofsfees misluk het.”

So misluk ook elke Oesdankfees. – God het vir ons, sy geliefde kinders, gemaak, om saam met mekaar en vir mekaar te lewe. Omdat God lief is vir ons, het Hy baie gawes vir ons gegee, sodat ons mekaar kan blymaak, gelukkig maak, ryk maak. So gesien, kan die lewe ’n fees wees, ’n vrolike Oesdankfees, waar elkeen sy bydrae maak. Maar ons selfsugtigheid kan die lewe laat misluk. Elkeen lewe ten koste van sy naaste, soos in hierdie chinese verhaal van die bruilofsgaste. Elkeen dink, sy gawe sal deur niemand vermis word in die vat van die wëreld.

Ons is gedurig besorg oor ons self en ons verloor uit ons harte, wat God vir ons bedoel het, ’n vervulde lewe in liefdevolle dankbaarheid teenoor die Gewer en Bewaarder van alle gawes en die liefde teenoor mekaar.

’n Christen vier Oesdankfees en dank God vir al die gawes, wat hy uit sy hande ontvang. ’n Christen giet ook sy vles wyn van dank en liefde en hulp in die vat van die wëreld en nie slegs die water van selfsugtigheid nie.

Dis hoe dit ’n ware dankfees word, sodat diegene, wat oor ons skouers loer, die behoeftiges, die armes, diegene met probleme, ook daaroor kan blyraak. God sal nie met sy seën vir jou, die blymoedige gewer spaar nie, maar sal jou met lig en vreugde en ’n vrolike hart seën. Amen.

Gebed: Here, ons dank U vir die onverdiende liefde, waarmee U ons elke dag ryklik seën. Here, ons dank U vir die onverdiende liefde, wat ons as sondaars aanvaar, wat ons ook in die alledaagse lewe nie in die steek laat nie. Here, ons dank U vir die liefde, wat vër oor ons aardse seëninge strek. Here, laat ons draers van hoop wees, deurdat ons dankbaarheid lewendig bly, tot seën vir ander, maar ook vir onsself. Amen.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, behoed en bewaar julle harte en gedagtes in + Christus Jesus. Amen.