Wagwoord
Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn.
– 2 Korintiërs 5:10
Leesings
Sendbriewe – Romeine 14: 1-13
Evangelies – Matteus 25: 31-46
Lied van die week
Laudate 454: Dis tyd, o mens, bedink die tyd
- Dis tyd, o mens, bedink die tyd: Die Regter kom al nader. Hy kom in krag en heerlikheid. Die mensdom moet vergader om almal voor sy troon te staan. En alles sal deur vuur vergaan, soos Petrus dit betuig het.
- Basuine sal met groot gedreun die wêreldrond laat bewe. Dan sal die dode met gekreun of met gejuig herlewe; maar die wat leef op daardie dag sal in een oomblik deur Gods mag vernieu word en verander.
- Terstond word dan die boek gebring, waarin die Heer laat skryf het wat elke arme sterweling sy lewe lank bedryf het; ja, geen gedagte, woord en daad het Hy vergeet of uitgelaat: Die Regter is alwetend.
- O wee die wêreldling wat God en sy gebod verag het, en net na wellus en genot of geld en goed getrag het! Hy sal met skrik die vonnis hoor, wat soos ‘n dolk sy siel deurboor: Gaan weg van my, vervloekte!
Preek
Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, wees met julle in waarheid en in liefde! Amen.
Die Skriflesing vir die preek kom uit Job 14:1-6(7-12)13(14)15-17 :
‘n Mens, gebore uit ‘n vrou, se levensdae is van korte duur en vol onrus. Soos ‘n blom kom hy op en verwelk; soos ‘n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie. Ja, op so een hou U u oë gerig, hom betrek U in ‘n regsaak met U. Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie! As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vastaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie, kyk dan weg van hom af, sodat hy kan ophou werk, totdat hy soos ‘n dagloner tevrede is met sy dag. Ja, vir ‘n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie. Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond, van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos ‘n jong plant. Maar ‘n man sterf en is magteloos; ‘n mens kom om – en waar is hy dan? Water verdwyn uit ‘n see, en ‘n rivier droog op en lê uitgedor; so gaan lê ‘n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie. “As U my maar in die doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, ‘n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou! As ‘n man sterf, sal hy weer leef? Al die dae van my dwangarbeid sou ek wag tot die einde van my skof. U sou roep en ek, ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang. Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie. Verseël in ‘n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister.
Gebed: Here, heilig ons in die waarheid. U Woord is die waarheid. Amen.
Liewe broers en susters in Christus Jesus!
Dis al weer daardie tyd van die kerkjaar wat ons gebruik om oor ons sterflikheid na te dink. En niks pas beter daarby as die lesing vir die preek van vandaq uit die boek Job nie.
Terwyl die groen somer en die baie sonlig ons aan die nuwe lewe herinner, aan die feesgety en vakansiedae, word ons deur die Woord van die Here aan ‘n ander feit herinner: die verganklikheid van die menslike lewe.
Ook Job het baie tyd gehad om oor die dood na te dink. God het die Satan toegelaat om Job met allerhande rampe te tref. Sy kinders het tydens ‘n familiebyeenkoms in ‘n ongeluk omgekom, sy besittings is gesteel en sy werkers doodgemaak. Toe hy nog steeds die Naam van die Here prys het Satan sy gesondheid aangetas: Hy word oortrek met dodelike swere van kop tot tone.
Toe hy in die as gaan sit en homself met ‘n potskerf krap is dit sy eie vrou wat hom aanspoor om sy geloof te versaak, om God te vloek en te sterf.
Ongelukkig is daar in die lewe nie ‘n “reset”-knoppie waarmee mens die program of die rekenaarspeletjie weer kan begin nie.
Wanneer mens deur ‘n ramp getref word, sit jy daarin vas en kan nie ontsnap nie. En so het Job ook op die ashoop gesit, geteister deur swere, en hy het baie tyd gehad om te dink: “n Mens, gebore uit ‘n vrou, se levensdae is van korte duur en vol onrus. Soos ‘n blom kom hy op en verwelk; soos ‘n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie.” (V 1-2)
Ja, so leef ons: haastig is die moderne samelewing. Ons hardloop van die een aktiviteit na die ander, — mens moet tog jou beroep, gesin, stokperdjies, sportbyeenkomste en menslike verhoudings almal perfek hanteer.
Selfs ons vakansies is noukeurig beplan sodat ons die beste maak van die tyd wat tot ons besklkking is.
Daar bly geen tyd vir rus en besinning oor nie, want dan maak dit alweer “biep” in ons sak of op ons rekenaar, en ’n nuwe SMS, WhatsApp-boodskap, of e-pos het aangekom en vra onmiddellik vir ons aandag. Die jaar het skaars begin of ons trek alreeds by November en in die winkels word die kesfeesbonne reeds uitgehaal.
So verloop die mens se lewe vol onrus. Daar is die varsheid van die jeug, die eerste liefde, die eerste werk, die eerste huis, dalk trou en kinders. Soos ’n blom in die lente kom die mens tot bloei. En die moontlikkhede lyk sonder einde.
Maar soos Job sé: die mens leef net kort. Die jare vlieg verby, en gou is daar grys in die hare; dinge gaan nie meer so vinnig nie, liggaamlik en geestelik word ‘n mens broser, swakker, afgetakel. Eers is dit ‘n bril, dan ‘n gehoorapparaat, dan die daaglikse oefeninge om die fisio weg te hou. Maar dit alles vertel vir ons waarheen die reis op pad is.
En net so vinnig as wat dit begin het, hou die menslike lewe ook op. Wat is sestig, sewentig of tagtig jaar in vergelyking met die wéreldgeskledenis? Wat is negentig of honderd jaar in vergelyking met die ewigheid? ’n Oomblik, ’n nietigheid, ‘n sandkorrel in die woestyn.
En wat bly oor na al daardie gejaag en geswoeg? Wat is ons nalatenskap? ’n Groot erfporsie miskien? ’n Groot nageslag? ’n Beroemde naam? Maar wat baat dit jou as jy eendag in die koue graf lê of as daar van jou net ‘n handvol as oorbly?
Ja, vir ‘n boom is daar hoop, skryf Job, hy word afgekap en hy loop weer uit, sy jong lote hou nie op uitsptuit nie. “Maar ‘n man sterf en is magteloos; ‘n mens kom om – en waar is hy dan?
Water verdwyn uit ‘n see, en ‘n rivier droog op en lé uitgedor; so gaan lé ‘n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie.” (V 10-12) As tot as, stof tot stof. Want, o mens, sê Job, vir jou “is ‘n grens getrek wat jy nie kan oorskry nie.”
Baie mense hou nie daarvan om aan hierdie dinge herinner te word nie. Daarom word hulle lewe volgepak met dinge wat hulle van die gedagte moet aflei. Werk, sport, vermaak, stokperdjies, kan ook ‘n tipe ontvlugting wees. Die vrees vir die dood is eenvoudig te groot, en so het die moderne mens die dood uit die alledaagse lewe verban. Die dood vind nou net klinies afgesonder in klinieke en hospitale plaas, vêr verwyder van die gewone lewe.
As mens die ou kerke in Europa besoek sien mens dikwels in klip uitgebeïelde skedels en skelette met die sandglaas langsaan. Met hulle grynsende beentandmonde roep hulle ons toe en sê: “Memento mori – onthou dat jy moet sterf.”
Slegs wanneer ‘n mens dit in gedagte hou, kan jy jou lewe realisties beoordeel en ‘n ware perspektief kry oor wat in hierdie lewe werklik van waarde is en wat betekenis het.
Maar hoe troosteloos en verskriklik sou hierdie aardse bestaan wees as “memento mori”, as ons dood die eindpunt was, of as dit werklik so was soos Job hardop oorweeg het — dat die mens, wanneer hy eenmaal gaan lê het, nie weer opstaan nie.
Maar dan gaan sy gedagtes verder: “As U my maar in die doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, ‘n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou!”
Dis asof daar by Job die vae gedagte van ‘n nuwe bestaan na die dood begin opkom: Sal U, Here, my in die doderyk onthou? Soos U vir Abraham onthou het en vir hom en Sara ‘n seun geskenk het toe sy al bejaard was, soos U vir Josef onthou het toe hy in die tronk in Egipte gelê het, soos U die Israeliete onthou het wat in slawerny gevange was. Sal U Here, ook my onthou as ek in die doderyk lê?
Wat ‘n geluk dat hy die haas ondenkbare vraag stel: “As ‘n mens sterf, sal hy weer leef?” Kan dit werklik wees dat die dood nie die absolute einde is nie? Sou dit moontlik wees dat die Skepper sy skepsel weer uit die lang slaap roep? “U sou roep, en ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang.” (V 15) Is God se liefde vir sy skepsel so groot dat Hy werklik verlang na die werk van sy hande?
En Job gaan voort met sy hoopvolle begeerte: “Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie. Verseël in ‘n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister.” (V. 16-17)
Sou dit dalk moontlik wees dat daar ‘n opstanding uit die dood is, dat ons gestorwe geliefdes weer gaan lewe — en dat daar boonop nog vergifnis van sondes is? Dat al my oortredinge in ‘n sak verseël is, my sondeskuld toegepleister sodat niemand dit kan sien nie? Kan dit wees dat hierdie kort lewe op hierdie verdoemde planeet nie die einde is nie? Kan dit wees dat ons, na al die swoeg en jaag, na al die onrus, uiteindelijk rus kan vind?
Kan dit wees dat na al die verschillende, ondenkbare lyding wat sommige hier op aarde moet verduur, na al die oorloë, daar uiteindelijk vrede en rus kom — en geen pyn, geen smart en geen trane meer nie? Kan dit wees dat ons tog nie in ’n koue en genadelose heelal ingegooi is nie, maar dat die lewe wel sin het?
Liewe susters en broers, wat Job slegs kon vermoed, dit weet ons uit die Nuwe Testament: Jesus Christus het in hierdie wëreld gekom om ons van die dood te red. Dit is goed en reg om daaraan te dink dat ons eendag moet sterf, maar as Christine rig ons ons gedagtes meer op die vreugde van die opstanding.
Want Christus het gekom om op ons vrae die groot ja-woord te wees: Ja, daar is ’n opstanding ná die dood. Ja, daar is ’n groot hereniging. Ja, al jou sondes is deur Christus se bloed vergewe.
Job het gevra: “Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom?” (V 4) Ja, die mens is onrein en ons kan nie iets reins uit ons voortbring nie.
Maar Jesus Christus is die Een by wie die onmoontlike moontlik geword het: dat ’n reine mens uit ’n sondige mens gebore is—naamlik uit die maagd Maria. En hierdie enigste Reine, die Seun van God en die Seun van Maria, het ons skuld en onreinheid oorwin. Hy het die verganklikheid van ons lewe opgehef en ewige lewe gebring. Hy verander droefheid in blydskap en trane in vreugde. Hy help ons uit elke ellende. Hy skenk ons deur die geloof nou reeds die sekerheid dat alle dinge ten goede meewerk vir dié wat God liefhet.
Ja, jy is vry van jou sondes, jy hoef geen oordeel te vrees nie. Ja, as iemand wat in Christus gedoop is (Gal 3,27) het jy Christus aangetrek, is jy ’n kind van God en sal jy vir ewig in die hemel leef. Ja, God self sal al jou trane afvec, jou aan sy bors druk en jou vertroos. Ja, jou lewe het nou reeds sin: jy mag in hierdie lewe nou alreeds in Christus leef en aan die vreugde van die ewigheid deelhê, en in al jou moeilikhede en bekommernisse nou reeds daaruit troos en hoop put.
Job self het ‘n paar hoofstukke later hierdie belydenis uitgespreek: “Maar ek weet, dat my Verlosser leef! Uiteindelik sal Hy op aarde opstaan.” (Job 19,25)
Daardie klein sin van hoop verander alles—dit los seker nie al die vrae op nie en dit neem nie die pyn en die geroep na verlossing weg nie. Maar dit bly die laaste en sterkste antwoord wat ons kan deurdra. En dit is so naby, omdat Jesus Christus tog gekom het.
Ja, aan die einde sal die lewe oorwin—die goeie, gelukkige, vervulde lewe. Dit is die antwoord van die opstanding van Jesus uit die dood. Aan die einde maak God alles goed, soos Hy dit by Job gedoen het. Wanneer die blom verwelk en die skadu verdwyn, dan word dit aandrus, dan kan die dagloner sy loon ontvang en hom uitrus.
Wat ‘n troos is dit nie ook vir die Christene in Mosambiek, Nigeria, Egipte en elders wat om hulle geloof ontwil vervolging verduur en met die ergste moet reken. Ook hulle leed sal eendag tot ‘n einde kom wanneer ons die fees in God se koninkryk sal vier wat geen einde sal hê nie.
Wanneer ons ons dus vandaq aan Christus se voete neerbuig by die Heilige Nagmaal, mag jy daar reeds die ewigheid proe. Die ewige God en Here Jesus Christus gee Homself aan jou en aan my — Hy laat ons deel hê aan sy ware liggaam en sy ware bloed. Dit is die medisyne van die ewige lewe. Deur hierdie liggaam en deur hierdie bloed kom jy in die hemel en word jy van die ewige dood gered.
Hier by die tafel van die Here is dit waar ons kortstondige lewe sin kry. Want wie die liggaam van die Here eet en die bloed van die Here drink, hoef die dood nie meer te vrees nie. Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

