Skip to content Skip to footer

Laetare

Wagwoord

As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie,
bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.

– Johannes 12:24

Leesings

Sendbriewe – 2 Korintiërs 1: 3-7

Evangelies –  Johannes 12: 20-26

Lied van die week

Laudate 327: Jesus ons verblyding

  1. Jesus ons verblyding, Jesus wat bevryding deur sy dood ons bring: sien ons sielsverlange; hoor die lofgesange wat ons dankbaar sing! Ja, vir ons, u eiendom, is daar buiten U op aarde niks van krag of waarde.
  2. Buig voor Hom, sy lede; werp jul smeekgebede needrig voor Hom neer! In Hom uitverkore, prys met blye kore ons Hom keer op keer. Ons verlang om Hom te dien in opregtheid al ons dae tot sy welbehae.
  3. Here, ons Ontfermer, U is ons Beskermer. Waarom sou ons vrees? Dreun die on-weerswolke, sidder al die volke, ons sal veilig wees. Laat vergaan al wat bestaan, U, die Magtige en Sterke, dek ons met u vlerke.

Preek

Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, wees met julle in waarheid en in liefde! Amen.

Die Skriflesing vir die preek kom uit Joh 6:47-51(52-55) :

Dit verseker Ek julle: wie glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.”

(Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan Hy sy vlees vir ons gee om te eet?” Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie lewe in julle nie. Wie my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My vlees is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.” (Joh 6,52-55)

Gebed: Here open ons harte, dat ons U stem kan hoor en die Woord van Waarheid ons kan bereik. Amen.

‘n Ou egpaar sterf amper gelyktydig en kom bo in die hemel aan. Hulle word deur Petrus verwelkom en na ‘n pragtige luukse woonstel geneem met alles wat hulle aan kan dink. Die egpaar is totaal verstom en kan nie ophou oe en ah nie. Maar toe stamp die man sy vrou liggies in die sy en brom: “Jy met jou gesonde dieet! Ons kon hierdie al veel vroeër geniet het!”

Broers en susters, dit is natuurlik net ‘n grappie wat ek julle vertel het. Maar daar is tog ‘n bietjie waarheid in die grappie. As jy ‘n bietjie deur die sosiale media op internet bladsye navigeer, sal jy ‘n hope wenke vind oor watter kosse jou lewe met sewe of selfs twintig jaar kan verleng. Ongelukkig het ek nog geen studie gekry oor hoe jy deur die eet van sjokolade jou lewe kan verleng nie. Maar knoffel oftewel garlic word byvoorbeeld gereeld genoem – en dit is heeltemal verstaanbaar, want wie knoffel eet, hoef nie al te bang te wees dat mense te naby aan hom gaan kom om hom aan te steek nie.

Ja, die geloof dat jy met die regte dieet jou lewe kan behou en verleng, het by baie mense (ook in ons land) ‘n ware kultus geword – en dit is ook hoekom daar gereeld ‘n groot histerie ontstaan as daar weer in ‘n studie bewys word watter kieme en skadelike stowwe tog in ons kos gevind word, kos wat veronderstel is om ons lewe gesond te hou en te verleng. Mens wil tog eet om lank te lewe, en nie eet om uiteindelik aan die kos te sterf nie!

Maar nou bly die vraag: Wat help dit my om daardie sewe ekstra jare te kry wat ek kan wen deur sekere lekker kossoorte op te gee en eerder net nog neute, olyfolie en knoffel te eet? Waarvoor wil ek eintlik so lank op aarde leef?

Ek hoef nie dadelik na die brommende man in die hemel te verwys nie, maar die vraag bly tog bestaan: Waarvoor wil ek eintlik so lank op aarde bly?

Want een feit is tog duidelik: Ek kan nog so gesond en gebalanseerd eet as wat ek wil, ek kan soveel natuurlike geneesmiddels gebruik as wat ek wil – ek kan nogtans nie my dood verhinder nie. Trouens, met elke maaltyd wat ek eet, eet ek myself nader aan my eie dood.

En daarmee, broers en susters, is ons alreeds midde in die lesing vir die preek vir vandag: Die lesing handel ook oor eet en lewe – maar in ‘n baie omvattender sin as wat enige voedings- en leefstylgids ons ooit sou kon wysmaak. Ook Christus praat hier in ons lesing vir die preek oor hoe ons deur te eet lewe kan wen. Hy tree egter nie op as ‘n dieetkundige nie, maar maak van die begin af duidelik dat die lewe wat Hy belowe, oneindig meer is as ‘n verlenging van ons lewe hier op aarde met die een of ander jaar.

Christus praat hier herhaaldelik oor die ewige lewe, en daarmee maak Hy duidelik dat Hy ‘n lewe van ‘n heel ander kwaliteit belowe, ‘n lewe wat nie gekenmerk word deur die vrees om te vergaan, om te sterf nie, maar ‘n lewe wat die dood amper reeds agtergelaat het, ‘n lewe wat ons nie deur die nakoming van verskeie gesondheids-gebooie moet verseker nie, maar wat juis nie op ons korrekte optrede gebaseer is nie.

Hierdie lewe wat Christus belowe, het dus ‘n heel ander kwaliteit, omdat dit aan ons gegee word deur die gemeenskap met Hom, Christus self, met Hom wat die lewe in persoon is.

„Wie glo, het die ewige lewe.“ – So begin Jesus hierdie gedeelte. In die verse wat voorafgaan, het Christus reeds baie duidelik gemaak wat met hierdie geloof bedoel word.

Dit gaan nie daaroor dat ons sommer net aan iets glo, ‘n hoër geestelike wese, omdat dit ons dan beter laat voel nie. Maar die geloof waaroor Christus hier praat, is die geloof in Hom, in sy persoon. Luister na wat Christus hier sê. Hy sê nie: „Wie in My glo, sal eendag in die toekoms die ewige lewe kry nie.” Nee, Hy sê: Wie glo, wie in My glo, het, ja, hy het die ewige lewe.

Dit gaan nie daaroor dat ons danksy Jesus ‘n paar jaar by ons lewe kan byvoeg nie. Nee, dit gaan daaroor dat ons hier en nou, in die middel van ons daaglikse lewe, in die middel van al die probleme wat ons druk en besig hou, die ewige lewe het – deur die geloof in Jesus Christus.

Hoe moet ons dit verstaan? Daarvoor moet ons eers verstaan wat „geloof“ in die Johannesevangelie beteken.

„Geloof“ is nie ‘n vae gevoel nie, en „geloof“ is ook nie ‘n keuse wat ons mense maak nie. Geloof is niks anders as gemeenskap met Christus, dat Hy in ons leef en ons in Hom. Daarom het ons die ewige lewe, omdat Jesus Christus die ewige lewe in persoon is, wat deur God, sy Vader, na ons gestuur is, om ons aan hierdie ewige lewe te laat deel.

En dan vat Christus hier nog ‘n tree verder en maak duidelik: Geloof beteken inderdaad: Eet – en nie net in die figuurlike, maar in die heel werklike sin.

Deur te eet ontvang ek iets, neem ek iets in my op. En presies dit beteken geloof ook: nie om iets doen nie, maar iets te ontvang, nee, nie net iets te ontvang nie, maar Homself, Christus, te ontvang, wat van Homself sê: Ek is die brood van die lewe.

Ek eet omdat ek iets nodig het, omdat ek besef: Daar is iets wat in my ontbreek. Geloof beteken: Ek het Christus nodig, ek ontvang Hom, Hy neem in my woning, en saam met Hom ontvang ek die ewige lewe, wat sterker is as die dood.

„Ek is die brood van die lewe“ – so stel Christus Homself hier aan ons voor. Afgesien van die hedendaagse dieetkultuur: Ons het inderdaad kos nodig om te kan leef, om te kan oorleef. Brood – dit is in die meeste samelewings die stapel voedsel by uitstek.

En dis presies hoe Jesus dit bedoel: Net so dringend as wat jy kos nodig het om nie te verhonger nie, om nie te sterf nie, net so dringend het jy My nodig as jy vir altyd wil leef, as jy ‘n lewe wil hê wat selfs die dood nie kan vernietig nie.

Ja, hoor wat Jesus hier sê: Hy sê nie: Ek is ‘n diep bevrore pizza onder baie ander in die supermark nie. Probeer my uit om te sien of ek vir jou lekker is – en as ek dit nie is nie, het jy nog altyd genoeg ander keuses. Nee: Jesus sê: Ek is die brood van die lewe. Daar is geen ander brood wat die lewe in Hom het nie. Selfs die manna waarmee God destyds die Israeliete gevoed het, kon hulle nie ewige lewe gee nie, dit het hulle net vir ‘n paar jaar op hulle reis deur die woestyn gevoed, meer nie.

Alles wat veronderstel is om jou lewe te vul, om jou honger na lewe te versadig kan jou op die ou einde nie help nie, kan nie vir jou ware lewe gee nie. Dit geld vir die volkoringbrood by Woolies, dit geld vir die vitamines wat jy in die oggend sluk. Dit geld vir die beste work-life-balance lewensfilosofie. Mohammed kan nie vir jou lewe gee nie. Hy is nie die brood van die lewe nie. Buddha gee nie vir jou lewe nie. Hy is nie die brood van die lewe nie. Geld gee nie vir jou lewe nie. Dis nie die brood van die lewe nie. Jou Suid-afrikaanse pas of die greencard vir Amerika gee ook nie vir jou lewe nie. Dis nie die brood van die lewe nie.

Jesus is die enigste een wat nie slegs jou lewe verleng nie maar wat die ewige lewe gee. Sonder Hom het jy geen lewe nie, sonder Hom bly die dood die laaste wat jou aan die einde van jou lewe verwag, maak nie saak hoe gesond jy ook al probeer leef en die dood probeer uitstel het nie.

Jesus – is die brood van die lewe. Net deur Hom ontvang ek die ewige, onverganklike lewe. Maar hoe kry ek hierdie lewe dan presies? Hoe word Jesus dan my brood van die lewe?

Wanneer Jesus Homself as die brood van die lewe beskryf, is dit nie net ‘n mooi, willekeurige beeld nie. Nee, Hy bedoel presies wat Hy sê: Jesus word my brood van die lewe deurdat ek Hom eet, deurdat ek hierdie brood van die lewe eet, ja, met my mond ontvang. „Die brood wat ek sal gee, is my vlees – wat ek gee vir die lewe van die wêreld.“ – So stel Christus dit self.

In die daaropvolgende verse brei Hy dit verder uit, maak dit duidelik dat Hy van niks anders as die Heilige Nagmaal praat, waarin ons inderdaad die vlees en bloed van Christus onder die gestalte van brood en wyn ontvang. So sê hy ‘n paar verse later: “Wie my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My vlees is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.” (6,54f)

Nee, „vlees“ beteken nie dat ons in die Heilige Maal ‘n stukkie van Christus ontvang nie. Nee, „vlees“ – dit beteken: Homself, Christus, liggaamlik, tasbaar, aanraakbaar.

Ja, presies dit gebeur in die Heilige Nagmaal, dat ons Christus self liggaamlik in ons opneem, dat ons met Hom nie net op ‘n geestelike, maar op ‘n fisies liggaamlike manier verbind word, dat ons deur Hom die ewige lewe ontvang, wat nie net iets geesteliks is nie, maar waarin ons eendag met liggaam en siel sal deel.

Wat ‘n ongelooflik goeie nuus: Mense probeer tevergeefs met allerlei diëte, met allerlei spesiale voedselssooorte om die ewige lewe te verseker, maar hier aan die altaar, kry julle dit, juis hierdie ewige lewe, kry julle dit werklik deurdat julle eet en drink. Wat mense van ander kossoorte verwag, kry julle hier – nie vir ‘n groot bedrag nie, maar heeltemal gratis. Niks, maar ook glad niks hoef julle daarvoor te doen nie – dit is genoeg om die mond oop te maak en julle te laat bederf met hierdie voedsel van die ewige lewe, ja, om julle laat voed.

Jy ontvang hier dieselfde liggaam van jou Here, wat die hele skuld van jou lewe aan die kruis van Golgota op Hom geneem en dit van jou weggeneem het. Jy ontvang hier dieselfde liggaam van die Here, wat op Paasfeesoggend die graf verlaat en die mag van die dood daarmee finaal gebreek het. Hy leef in jou in die krag van hierdie voedsel, laat jou deur dit vir ewig leef.

Jy wil nie net ‘n paar jaar langer hier op aarde leef nie, maar vir ewig leef? Kom dan en eet – ontvang die medisyne van die ewige lewe, ontvang die liggaam en bloed van jou Here hier in die Heilige Maal. Vir jou lewe het Christus sy liggaam en sy bloed in die dood gegee, sodat niks jou van God kan skei nie, sodat al jou sonde vergewe word, sodat jy vir ewig kan lewe.

Party mense sê: Maar Ek kan tog ook by die huis in Jesus glo. Nee, glo beteken eet, omdat dit in die geloof gaan om gemeenskap met Christus, ja, omdat geloof gemeenskap met Christus is. Ek kan geloof en eet nie van mekaar skei nie, juis omdat Christus Homself as die brood van die lewe vir ons aanbied, juis omdat Hy baie duidelik maak dat ons deur te eet die ewige lewe ontvang. ‘n Geloof wat nie die uitnodiging van Christus volg om sy vlees, sy liggaam en sy bloed te eet nie, neem Christus se woorde nie ernstig op nie, maak van Christus ‘n idee of ‘n bloot geestelike gestalte.

Geloof sonder eet – dit werk nie; dit sal ons geloof inderdaad laat verdor.

Kom dus, kom, eet en drink hier aan die altaar weer en altyd weer! Laat niks en niemand jou van hierdie eet en drink weerhou nie! Jy het die brood van die lewe nodig, jy het dit telkens weer nodig! Onthou dit: As jy hierdie brood van die lewe ontvang, sal jy vir ewig lewe. Wat ‘n uitnodiging! Jy ontvang hier die medisyne van die ewige lewe – en dit heeltemal gratis!

Christus, jou Here, leef in jou, Hy sal jou daarom eendag opwek tot ‘n nuwe lewe. En dan sal jy inderdaad eendag stomgeslaan wees van verbasing – van verbasing oor wat die gawes van die heilige Nagmaal in jou en aan jou gedoen het.

Ja, kom, eet – en leef: in alle ewigheid! Amen.

Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

Ons help graag!

Skakels
Adres

Pretoria —
844 Arcadia Straat
Arcadia, 0007

Evangelies Lutherse St.Paulusgemeente © 2025. Alle Regte Voorbehou.