Wagwoord
God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
– Romeine 5:8
Leesings
Sendbriewe – Romeine 5: 1-11
Evangelies – Johannes 3: 14-21
Lied van die week
Laudate 318: As ons in ons bekommernis, in angs en in benouenis geen uitkoms sien
- As ons in ons bekommernis, in angs en in benouenis geen uitkoms sien, geen hulp en raad, al kwel ons ook ons vroeg en laat,
- dan is daar een troos: dat ons saam en as een man u heilge Naam mag aanroep, troue Here God, en smeek om redding uit ons nood.
- Ons hef ons oë en ons hart tot U in diep berou en smart. Wend van ons tog u gramskap af en in u guns versag ons straf.
Preek
Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, wees met julle in waarheid en in liefde! Amen.
Die Skriflesing vir die preek is opgeksryf in Markus 12:1-12 :
Jesus het voortgegaan om in gelykenisse met hulle te praat en gesë: “n Man het ‘n wingerd aangellant en ‘n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. Op die vasgestelde tyd het hy ‘n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. Hulle het hom eger gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. Daarna het hy ‘n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. Hy het nog ‘n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar daardie boere het vir mekaar gesë: ‘Dit is die erfgenaam die. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis ons s’n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrijkste klip in die gebou geword.Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë.” (Ps. 118:22-118:23) Hulle het toe na ‘n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan.
Gebed: Here, heilig ons in die waarheid, U Woord is die waarheid. Amen.
Liewe broers en susters in Christus Jesus!
‘n Student vertel van ‘n plakkaat wat vir ‘n lang ruk in sy studeerkamer gehang het. Dit het van bo ‘n landskapsprent gewys – meestal bos, maar ook ‘n smal padjie. Alles was in donker groen gekleur.
Orals digte borne, bosse, ‘n stroompie. Daarby het daar in Engels ‘n vers gestaan: Love knows hidden paths – Liefde ken verborge paaie.
Hy sé self daaroor: Dit was redelik kitsch, hierdie kombinasie van woord en beeld. Dit was bedoel om die emosie aan te spreek, en op een of ander manier het dit gewerk. Ek het dit in my kamer opgehang. Dit het mooi gelyk en aangenaam geklink. En vir my voel dit ook waar. Liefde is iets besonders — dit is nie altyd dadelik sigbaar of voelbaar nie. Dikwels is dit goed weggesteek. Ek sien dit nie onmiddellik raak nie. Ander dinge lê daaroor, verskuil dit.
Liewe gemeente, haat, geweld en moord praat harder en duideliker. Die opskrifte van die koerante en die nuusberigte is vol daarvan. Dit skreeu as’t ware na my, brul hul bloeddorstige beelde uit, sodat ek amper nie meer raaksien dat daar liefde is nie. Stil and weggesteek. Ek ontdek dit nie dadelik nie.
In sy evangelie vertel Markus hierdie gelykenis. In die Luther-Bybel dra dit die opskrif: Oor die bose wingerdboere. Dit lê die spoor — om die bose te hoor en te sien, want daar word geslaan, gemartel en vermoor.
Ek vra myself af: Waar is die liefde dan? Is daar nog plek vir liefde?
Daar is ’n ongemaklike spanning in hierdie lesing uit die evangelie. Jesus vertel die gelykenis aan die godsdienstige elite — die leierpriesters, skrifgeleerdes en familiehoofde. Hulle kon hoor dat Jesus oor hulle praat, dat hulle die wingerdwerkers is. Die wingerd sal van hulle weggenem word, die toegang tot die koninkryk van God sal hulle verloor.
Maar dit is ook fassinerend omdat dit oor Jesus self gaan. Hulle het kritiese vrae aan Hom gestel: “Wat maak jy? Waarom jaag jy verkopers en kopers uit die tempel, waarom gooi jy die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiwehandelaars om? Wie het aan jou hierdie gesag gegee? Met watter mandaat doen jy dit?”
Meer as vrae is dit eintlik beskuldigings en aanklagte wat die hoëpriesters en skrifgeleerdes teen Jesus rig. Daar is geen sigbare belangstelling in antwoorde nie — hulle soek eerder bewyse vir ‘n verhoor. Die atmosfeer is nie net gespanne nie, dis gelaai met konflik. Die begeerte om van Jesus ontslae te raak brand helder — asof hulle dink: “Hy bring onrus, hy bedreig ons gewoontes, hy verwar die mense, hy bevraagteken ons gesag.” Verstaanbaar dat hulle so dink.
Liefde ken verborge paaie. Dit is nie maklik om hulle raak te sien nie. Dit lyk of daar geen paaie is wat Jesus en die godsdienstige leiers van die volk verbind nie.
Ek wil vir julle ‘n storie vertel. ‘n Verhaal oor liefde en vertroue. ‘n Man het sy wingerd lief. Hy is lief vir die natuur, die werk in die vars lug. Dit is harde werk, dit verg tyd, krag en sweet — van die begin af. Die wingerd moet geplant word; jy moet goeie steggies hê, die regte ligging kies, vrugbare grond vind. En die hele tyd weet jy: dit vat lank. Daar is geen waarborge nie. Ek kan net doen wat binne my vermoë is.
Ek beskerm my wingerd teen diere en ongewenste gaste deur ‘n heining te bou. Ek grave ‘n parskuip vir die toekomstige oes en bou ‘n toring — sodat ek gevare vroeg kan raaksien en betyds kan reageer. Daar is baie om aan te dink en baie werk om te doen. Maar dit bied hoop. As die weer reg is, die son skyn en die reën val, kan ek binnekort oes. En uit die oes volg ‘n fees. Dan vier ons met wyn en goeie kos.
Ek is lief vir my wingerd. En ek vertrou die landbouers wat in my wingerd werk. Hulle ken my, en hulle het ‘n goeie lewe hier — werk, ‘n inkomste, ‘n plek om te woon. Ek vertrou hulle met my wingerd. Uiteindelik sal ons almal saam bly wees. Ek is lief vir my wingerd, en ek vertrou my werkers om hierdie liefde aan te voel en met hul betroubaarheid en getrouheid daarop te antwoord. Hoe kan dit anders wees? Liefde beantwoord jy mos met liefde.
Maar die onverwagte, die ondenkbare gebeur. Die wingerdwerkers beantwoord my liefde en vertroue met geweld. Die kneg wat ek stuur om die oes te gaan haal, word geslaan en met leë hande teruggestuur. Dit is rebellie teen my liefde en vertroue. Openlike verset. Amper soos ‘n oorlogsverklaring. Of dalk ‘n provokasie? Hoe moet ek hiermee omgaan? Hoe dit hanteer?
Dis wat ek gaan doen: Ek stuur weer ‘n kneg. En weer word hy die slagoffer van openlike geweld.
En nou? Ek stuur nog ‘n kneg. Dié keer word hy selfs doodgemaak.
En nou? Ek hou nie op nie. Ek stuur altyd weer knegte. Party word geslaan, ander word doodgemaak.
Sien julle, liewe gemeente, die verborge liefde van die eienaar? Hoe hy oor sy wingerdwerkers bly waak? Hoe hy vir hulle liefde veg en hulle nie prysgee nie — al is die offers ook hoe groot? Hou hy dan ooit op om hulle te probeer oortuig, om vir hulle lief te wees nie? Waar is sy grens?
Hy oorskry dit. Hy neem die laaste en die swaarste stap. Hy stuur nie meer ‘n kneg nie — hy stuur sy Seun. Meer liefde as dit is onmoontlik. Sou jy jou kind stuur, jou enigste, om so ‘n klomp wrede halastarige wingerdwerkers te probeer oortuig? Hoeveel oorwinning oor homself, hoeveel pyn kos dit hom? Ek kan dit net raai, nie regtig verstaan nie.
“Liefde ken verborge paaie.“ Dit loop moeilike weë. Dit waag om misverstaan en selfs misbruik te word. Dit aanvaar selfs die risiko om met die lewe te betaal. Dit offer homself op, dalk sonder om ooit sy doel te bereik. Maar dit gee nie op nie. Teen geen prys nie.
En dan gebeur wat onafwendbaar was: Die wingerdwerkers sien hul kans. As hulle die erfgenaam doodmaak, behoort alles aan hulle, so redeneer hulle. Hulle vermoor hom en gooi sy lyk oor die heining uit.
My storie het ’n wrede einde gevind. Die liefde het nie sy doel bereik nie. Die geweld het die laaste woord gehad. Die dood het geseëvier — oënskynlik definitief. Kan die verhaal aangaan? Het liefde en vertroue gefaal?
Ja, Jesus het na die wingerd van sy Vader gekom, na sy eie volk, met die duidelike wete, dat Hy nie deur almal met blydskap ontvang sal word nie, maar dat hy verwerp, ja uiteindelik onteer en doodgemaak sal word. En Hy kom nogtans, maak met sy koms duidelik, dat God nie opgee nie, dat Hy sy wingerd, sy volk, nie afskryf nie, maar alles, werklik alles gee, sodat die wingerd tog nog vrugte voortbring, maak duidelik, dat die wingerd vir Hom so belangrik is, dat Hy selfs die lewe van sy eie Seun daarvoor gee.
Die evangelie eindig nietemin nie hier nie. Inteendeel. Nou tree ons in hierdie storie in. Ons, as luisteraars en lesers, word nou direk aangespreek. Ons is deel van hierdie verhaal — met ons lewens en ons geloof. Dit het die mense na wie Jesus gepraat het, destyds ook aangevoel.
Hier gaan dit oor meer as net ’n boeiende storie. Dit gaan oor liefde en vertroue. Maar ook oor teleurstelling. En tog, dit gaan ook oor die toekoms. Die liefde vir die wingerd bly ongeskonde. Die eienaar gee nie op nie.
Die werk gaan voort — die harde arbeid, die afhanklikheid van son, wind en reën. Maar die hoop op ’n oes bly leef. Die verwagting op groot, vreugdevolle feeste bly brandend — in dankbaarheid en in gemeenskap.
Maar met wie?
Die Heer van die wingerd bring die bose werkers om en vertrou die wingerd aan ander toe. Die spanning skuif nou van die gelykenis af na die harte van die mense wat na Jesus luister. Hulle voel: Dit gaan oor ons! Die vraag oor lewe en dood, oor mislukking en toekoms, raak elkeen wat hierdie gelykenis hoor. Destyds die eerste luisteraars — en nou ons almal wat dit lees of hoor.
Alles, wat ons het en besit, is en bly ’n geleende gawe van God, wat God vir die regte gebruik aan ons toevertrou het. En so rig Hy die vraag ook aan jou: Ek het die tyd van jou lewe aan jou toevertrou. Wat het jy met hierdie lewenstyd gemaak? Hoeveel het jy daarvan aan My afgestaan – op Sondae maar ook op ander dae van die week? Of het jy geglo, jy kon die tyd wat aan jou toevertrou is heeltemal vir jouself hé en niks daarvan aan My afstaan nie?
Ek het alles wat jy besit aan jou toevertrou. Wat het jy met hierdie geld en besittings gedoen? Waarvoor het jy hulle gebruik? Hoeveel het jy daarvan aan My afgestaan, hoeveel het jy daarvan aan ander mense afgegee? Of het jy gedink, jy kon alles net vir jouself behou? Ek het jou met sekere spesiale gawes geseën. Wat het jy met hierdie gawes gedoen? Hoe het jy hulle gebruik? Het jy hulle in my diens geplaas, of glo jy, dat jy hierdie gawes net vir jouself, tot jou eie voordeel kan gebruik?
Nee, God gee nie op nie. Hy rig hierdie vrae altyd weer aan jou en aan my. Jy mag probeer om nie te hoor nie, jy mag probeer bestry, dat God ’n reg het om hierdie vrae te stel. God vra nogtans, Hy vra, omdat Hy weet, dat Hy ’n reg het om op hierdie vrae ’n antwoord van jou te kry, omdat Hy weet, dat Hy ’n reg het, dat jy aan Hom gee wat Hom toekom.
Wat doen jy? Wie het jou die reg gegee? Watter mandaat het jy? Het die mense destyds vir Jesus gevra.
Die kritiese vrae wat Jesus moes veroordeel, word nou omgedraai. Lewe of dood, mislukking of toekoms — alles hang aan Hom, lê in sy hande. Hy is God se laaste en grootste liefdesbewys. Meer liefde as dit is nie moontlik nie. Alles is gedoen vir die toekoms. En wanneer alles gedoen is, breek die fees aan. ’n Groot fees met wyn en goeie kos. Die eienaar nooi ons uit na sy gemeenskap van dankbaarheid en vreugde. Wat ’n wonderlike vooruitsig!
Ja, dit is waar: Geweld speel ’n groot rol in die gelykenis. Knegte word geslaan, gemartel en vermoor. Die seun, die erfgenaam, word doodgemaak. Die eienaar van die wingerd is diep geraak en teleurgestel. Hy kondig die dood van die bose werkers aan.
Maar dit is nie die einde nie. Aan die einde staan daar ’n wonderwerk voor ons oë: Dat die liefde van die eienaar nie doodgemaak kan word nie. Dit gee nie op nie — selfs nie nou, selfs nie met die dood van sy seun nie, en des te minder daarna. Inteendeel.
Ek wil liewer aan die wonderwerk voor ons oë glo as aan die beelde van geweld wat ons keer op keer sien. Asof haat en dood die laaste woord oor die lewe het. Ek wil meer vertrou op die liefde van die Here as op mense se gevegte oor grond, mag en aansien.
Ek wil uitsien na die nuwe huis wat God bou, met Jesus Christus as die hoeksteen.
Ek wil my oopstel vir die verborge paaie van liefde — daardie paaie wat nie altyd sigbaar is nie, wat dikwels oorverdowend stil raak te midde van die geskreeu van geweld en dood.
Ek hoor Jesus se gelykenis as ‘n uitnodiging: Om die verborge paaie van liefde te sien én te stap. Hulle verbind ons met die Here van die wingerd. Hulle lei, te midde van al die ellende van hierdie wêreld, na die toekoms. Dit gee my lewe hoop. Veral wanneer ek min van liefde voel. Wanneer stryd en konflik, haat en geweld, die oorhand blyk te kry.
Maar God hou nie op nie. Hy hou aan om jou en my — om al sy mense — se harte te wen met ’n liefde wat nooit eindig nie.
God gee nie op nie; Hy skryf jou nie af nie, Hy self sorg, dat die vrugte van geloof wat Hy van jou verwag ook in jou lewe groei. Hy dra sorg, dat jy by sy Seun, by Jesus Christus bly. Moenie aan diegene behoort, wat die Here uit hul lewe verban en sonder Hom wil klaarkom nie. Hou dit veelmeer altyd voor oë, wat dit beteken, dat Hy ook vir jou gesterf en opgestaan het. Is dit nie wonderlik, dat ons so belangrik vir God is?
Wat ’n wonderwerk sou dit wees: Om die groot en dankbare oesfees te vier. Met goeie wyn. Met die Here van die wingerd en sy Seun. Met die dissipels. Met Fariseërs, skrifgeleerdes en familiehoofde. Ja en ook met die een of ander familielid of vriend wie se harte nog verhard is. Liefde ken verborge paaie. Amen.
Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen