Skip to content Skip to footer

Sexagesimae

Wagwoord

Vandag as julle sy stem hoor,   moet julle nie hardkoppig wees nie.
Hebreërs 3:15

Leesings

Sendbriewe – Hebreërs 4:12-13

Evangelies – Lukas 8:4-15

Lied van die week

Laudate 150 : Wie is bekwaam, o Here God, tot geestelike dinge?

  1. Wie is bekwaam, o Here God, tot geestelike dinge? U wil, u wese, u gebod is vir ons sterwelinge so hoog dat ons dit nie verstaan. Maar deur u Woord wys U ons aan die weg tot U, ons Here.
  2. Reeds in die ou tyd het U, God, u kennis en u regte, u heil’ge wil en u gebod ver-kondig deur u knegte. Oplaas het dan u Seun, ons Heer, tot ons gekom om ons te leer die Woorde van die lewe.
  3. U is die Waarheid, suiwer, rein, volkome, nooit volprese. Heer, buiten U is niks as skyn. In U is krag en wese. O Waarheid, maak ons harte vry, sodat ons, aan U toegewy, kan smaak die ware lewe.
  4. O Here, open deur u Gees ons ore en ons harte dat ons kan regte hoorders wees. Help ons in vreugd’ en smarte u Woord ontvang en dit behou, sodat ons, aan u Woord getrou, vir U veel vrug kan drae.
  5. O Vader, gee dat U ter eer u Woord mag uitgebrei word. Help, Jesus, dat ons deur u leer verlig word en gelei word. O Heil’ge Gees, bring deur u Woord gedurig in ons harte voort geloof en hoop en liefde.

Preek

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees wees met julle almal. Amen.

Die Skriflesing vir die preek is opgeksryf in Handelinge 16:9-15 :

Daardie nag het Paulus ‘n visioen gehad. ‘n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat ‘n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, ‘n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ‘n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het ‘n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. ‘n Vrou uit die stad Tiatira, ‘n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal. 

Gebed: Here, laat U Woord ons ore en ons harte bereik. Amen.

Liewe broers en susters in Christus Jesus!

“Wat het Dominee so en so nie uit sy gemeente gemaak nie!” – So hoor ek partykeer mense oor hierdie of daardie dominee praat. Gewoonlik kry ek dan ’n onrustige gevoel as ek dit hoor. Aan die een kant, omdat ons deur die heilige Skrif aangeraai word om dit, wat binne ’n gemeente gebeur, deur ’n ander bril te sien. Dis seker maar menslik om dit aan ’n mens toe te skryf as iets in ’n gemeente goed verloop. En dis omgekeerd net so maklik om dit aan mense toe te skryf as iets in ’n gemeente skeef loop, as mens nie die suksesse en die resultate kan sien, wat mens graag wil nie.

Want die een siening kan baie maklik in die ander een omslaan. Woorde van lof en woorde van beskuldigings lê dikwels baie na aan mekaar, as mens dit, wat in ’n gemeente gebeur net aan mense toeskryf.

Ons teks vir die preek kan daar vir ons ’n groot hulp wees om te besef, wat werklik binne ’n christelike gemeente gebeur. Nee, die evangelis Lukas gee nie vir ons ’n paar wenke hoe om ’n gemeente te laat groei nie, water strategieë om te volg nie. Maar hy vertel eenvoudig van dit wat Paulus en sy medewerkers destyds op die sendingveld beleef het en hoe dit vandag nog net so relevant is. Nee, Paulus is nie die belangrikste, die middelpunt van ons verhaal nie. Want dis eintlik ’n Christusverhaal, wat hier vir ons vertel word. Drie insigte word hier vir ons duidelijk:

  • Christus maak deure oop

  • Christus maak harte oop

  • Christus maak huise oop

  1. Die apostel Paulus het vanaf Jerusalem sy tweede sendingreis begin. Soos die eerste een, wat ongelooflik suksesvol was, wou hy ook hierdie tweede een saam met sy vriend Barnabas van stapel stuur. Maar die twee het nog voor die reis kon begin woorde met mekaar gehad en weliswaar so erg, dat elkeen daarna sy eie pad gegaan het. Stryd en harde woorde was dus 2000 jaar gelede al ’n realiteit onder gemeentes, ja selfs onder apostels en sendelinge! En so het Paulus se reis onder moeilike omstandighede begin.

Lukas vertel nou van ’n rits mislukkings, wat die apostel Paulus in sy bediening belewe het. Hy wou in die gebied van die huidige Turkye, in die provinsie Asië sendingwerk doen; maar die heilige Gees het dit verhinder. Toe wou hy na Bitinië reis; maar die Gees van Jesus het dit nie toegelaat nie, so staan dit hier geskrywe. Wat presies gebeur het weet ons nie. Het die deure eenvoudig toegebly, het die evangelie op klip geval of was dit ’n sickte wat Paulus verhinder het? Lukas het hierdie gebeure geestelik verstaan: Dit was die Heilige Gees wat hulle ’n ander pad gelei het as die een, wat hulle beplan gehad het. So het Paulus nou in Troas aangekom, by die see, heeltemal in die weste van die huidige Turkye, en aan die ander kant van die see was Europa. Paulus wou eintlik nie soontoe gaan nie, maar hier het hy onverwags ’n nuwe opdrag gekry:

Paulus het in die nag ’n visioen gehad van ’n Macedoniese man, wat by hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Help ons – dit klink op afrikaans ’n bietjie te swak. Red ons – moet mens eintlik vertaal.

Die evangelie het die krag om mense van die ewige dood tot die ewige lewe te red. Dis waaroor die prediking van Paulus gaan en oor niks minder nie. Dis eger verbasend, dat Paulus dadelik besef, dat hierdie visioen God se roepstem is, dat God hom roep om van Asië na Europa te reis en om ook daar die reddende evangelie te verkondig.

Dit herinner ons aan die geskiedenis van ons eie Sinode. Die leier van die Hermannsburg se Sendinggenootskap, Pastor Louis Harms, het die sendelinge en koloniste met die skip Kandaze na Oos-Afrika gestuur om daar sendingwerk te gaan doen. Maar toe hulle in Sansibar land, toe wil die Moslem-goewerneur hulle nie toelaat om in Ethiopië aan land te gaan nie. Hulle moes teleurgestel omdraai en terugseil.

Toe hulle eger in Port Natal stop, gaan die deure skielik vir hulle oop; hulle word toegelaat om in die Engelse kolonie aan land te gaan en onder die Zoeloes sendingwerk te verrig. Dis hoe baie van ons voorsate in Natal en later in die ou Transvaal beland het.

Christus kan deure toemaak, net om ander deure vir ons oop te maak, heeltemal anders, as wat ons verwag of beplan. Dit geld vir die Sending, dit geld ook vir ons gemeente. Die geskiedenis van ’n gemeente is mos nie bloot net ’n verhaal van suksesse nie; daar is met verloop van tyd ook mislukkings en teleurstellings. Nie alles wat mens beplan of hoop om uit te voer, sal altyd suksesvol uitgevoer word nie.

Maar daarvoor kan God meteens nuwe deure oopmaak, deure waarvan ons tot dusver nog nie geweet het nie. Ja, ons bittere belevenisse van mislukkings kan die begin wees van ’n nuwe en verrassende pad, waarop God ons lei. En daarom moet ons altyd wakker wees om God se stem te hoor, om die seine op te vang, waarmee Hy ons treë dalk in ’n nuwe rigting wil lei.

Daar kom dalk sulke mense waarmee ons vroeër glad nie mee gereken het nie. God trek partykeer ’n streep deur ons planne, om vir ons ’n heel nuwe opdrag te gee. Dis Hy wat deure toesluit en ander weer oopsluit.

En alhoewel ons op die oomblik ons planne het vir ons gemeente kan dit inderdaad gebeur dat God met ons gemeente nog heel ander planne het, waarvan ons op die oomblik nog niks weet nie. Dit bly belangrik, dat ons altyd onthou, dis nie vir ons om te besluit, wat in hierdie gemeente gebeur nie, maar dat God self die besluite neem en dat Hy ons daarmee altyd weer opnuut verras. So was dit destyds by Paulus en so is dit vandag nog.

Paulus was in elk geval baie haastig om van Troas na Masedonië te reis. Hy het reguit van Troas oor Samotrake na Neapolis gereis. Van daar het Hy verder getrek na Filippi, ’n belangrike romeinse kolonie. En daar het vir eers niks gebeur nie. Daar was niemand, wat Hom met ope arms ontvang het nie. Maar ook hier het Hy aan sy sendingbeginsel vasgehou: Om eers die evangelie aan die Jode te verkondig, dan aan die Grieke, die heidene.

En so het hy dadelik met sy medewerkers op die eerste Sabbat na ’n sinagoge gesoek. In die stad self, het hy geen gevind nie en hy gaan toe na die rivier buite die stadspoorte, in die hoop, dat daar ’n joodse bidplek sou wees. En siedaar: Paulus het reg gedink: Die plek van aanbidding is buite by die rivier, daar waar baie water vir die doopbad voorhande was.

Maar daar vind hy slegs ’n paar vrouens, wat daar bymekaar kom. Daar word nie gesê waar die mans was nie. Dalk was daar so min Jode in Filippi, dat dit maar ’n paar vrouens was, wat saamgekom het om te bid. Dis ook nie so belangrik nie. Baie belangriker is, dat Paulus met die vrouens gaan praat, dat hy nie sê: Ag wat, hier sit mos net ’n paar vrouens, dis nie die moeite werd om hier te preek nie.

Nee, hy doen iets wat vir destydse gebruike ongewoon was: Hy sit as rabbi by die vrouens en gee vir hulle onderrig, verkondig aan hulle God se woord. Hy weet: vrouens sowel as mans het nodig om die blye boodskap te hoor. Ja, ook dit kan gebeur as God deure oopmaak, dat daar mense in ons gemeente kom, wat in die samelewing dalk geen besondere aansien geniet nie, maar wat tog in God se oë nie minder belangrik is as die een of ander vooraanstaande persoon nie.

Dis net belangrik, dat ons hulle nie oor die hoof sien nie, maar as God se geskenke vir ons beskou, ongeag waar hulle vandaan kom of hoe hulle mag lyk nie.

  1. En dan berig Lukas hier van een van die vroue wat na Paulus geluister het. Sy was godvresend, m.a.w.: Sy was nie van joodse maar van heidense afkoms. En sy het saam met die Jode aanbid, omdat sy, soos so baie mense in haar tyd beïndruk was deur die joodse geloof in die een God en die duidelike morele waardes, wat die joodse wette uitgestraal het. Lidia was haar naam, en dit was destyds ’n tipiese naam van ’n sklavin: die vrou uit die gebied van Lidië.

Intussen het sy vermoedelik welgesteld geword. Sy het dan handel gedrywe met purper, ’n pers wolmateriaal wat uiters kosbaar was en waarmee mens vermoedelik baie geld kon verdien.

Maar nou het iets met Lidia gebeur, wat sy met geen geld kon koop nie: “… die Here het haar hart ooppesluit om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.”

Liewe gemeente, dis hoe Christus sy kerk bou, dat hy mense se harte oopsluit, sodat hulle ag slaan op dit, wat aan hulle verkondig word. Nee, dit lê nie in ons hande, waar en hoe dit by iemand gebeur nie. ’n Dominee kan nog soveel vurige preke hou – daarmee bring Hy niemand tot geloof nie. Die Here moet die hart oopsluit, sodat mense ontvanklik word vir dit, wat aan hulle verkondig word. Ons kan nie die werk van die Heilige Gees vir Hom doen nie; dit lê nie in ons hande, waar en hoe geloof gekweek word nie. Ja, ons moet Christus preek en van Hom getuig; maar wat daarnit volg, dit geskied deur die Here, alleen.

En dan gaan alles baie vinnig. Lidia word gedoop, sy en haar huisgesin. Ons hoor niks van enige keuse wat sy gemaak het of van ’n lang onderrigsessie. God maak die harte oop – en dan is dit vanselfsprekend dat die volgende stap daarin bestaan, dat sy gedoop word, dat sy self die verlossing ontvang, wat Paulus aan haar verkondig. Want die doop is mos ’n samevatting van die hele evangelie: God red ons deur die doop, Hy skenk ons daar die ewige lewe en ons hoef niks by te voeg nie, ons word eenvoudig in God se gemeenskap opgeneem.

En as die doop redding beteken, as dit ’n geskenk is en nie bloot ’n simbool van ’n menslike keuse nie, dan is dit vanselfsprekend, dat Lidia hierdie geskenk nie slegs vir haarself begeer nie, maar vir haar hele huis, vir haar familie, vir haar sklawe, vir almal, wat aan die huisgesin behoort.

En Paulus het nie die geringste twyfel, om ook hulle te doop, hy wag nie lank daarmee nie, gryp vinnig na die water. Die gevangenisoppasser in Filippi het hy nog in daardie nag gedoop, waarin hy vir die eerste keer iets van Christus gehoor het, en ook dadelik saam met sy hele familie. Veel langer het Paulus vermoedelik by Lidia ook nie gewag nie. Hy het geweet hoe belangrik die doop is.

  1. En dan hoor ons nog van ’n derde opening, die opening van Lidia se huis vir Paulus en sy medewerkers. Sy het ons oorreed, oorgehaal om te bly, skryf Lukas hier. Dit was vir haar belangrik, dat Paulus en sy medewerkers by haar tuisgaan, dat hulle gemeenskap het met mekaar. Sy het geweet hoe belangrik dit is, om as Christen met ander Christene te verkeer, om mekaar deur die onderlinge verbondenheid te laat versterk.

Christus maak huise oop – ja, presies dit mag ons tweeduisend jaar later ook belewe. Hy gee vir ons die geleentheid om in die erediens bymekaar te kom, hy laat ons die diepste gemeenskap met Hom en ondermekaar in die heilige nagmaal ervaar. Maar die Here, wat menseharte ontvanklik kan maak, Hy beweeg ook mense daartoe, om hulle huise vir mekaar oop te maak, sodat hulle ook buite die erediens kan beleef, hoe goed dit is, om in God se familie te kan saamlewe.

Christus maak huise oop – ja, dis goed, as julle mekaar ondermekaar uitnooi, met mekaar verbonde bly, ook buite die erediens. Maar dis nog beter, as dit nie altyd dieselfde persone is, wat mekaar uitnooi nie, maar as buitestaanders ook betrek word, diegene wat dalk nog jonk in die gemeente is. Hoe ryk is ’n gemeente, as sy baie Lidias het, wat hulle huise oopsluit, omdat Christus hulle harte ooppesluit het.

Dit is dus nie slegs Paulus, wat hier in ons verhaal alles bestuur nie; dit is Christus, wat hier deur verskeie mense aan die werk is, daar is ’n medewerkster, ’n vrou, wat die eerste gemeente in Filippi organiseer en daarvoor haar huis oopmaak. Ja, hierdie spannende verhaal wil opnuut ons oë oopmaak, sodat ons kan sien hoe Christus die Here, sy gemeente bou, omdat Hy deure, harte en huise oopmaak, ook by ons. Amen.

Gebed: Here, U maak geslote deure oop vir U evangelie; U maak harte oop om U evangelieboodskap te glo; open ook ons huise sodat ons U liefde met diegene kan deel wat ver weg is. Amen.

Seën: Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, bewaar julle harte en sinne in Christus Jesus. Amen

Ons help graag!

Skakels
Adres

Pretoria —
844 Arcadia Straat
Arcadia, 0007

Evangelies Lutherse St.Paulusgemeente © 2025. Alle Regte Voorbehou.